Die Markham-klerewinkel in Hoogstraat, Worcester, is Saterdag 11 November deur gewapende mans beroof.
Volgens inligting het vier verdagtes die winkel binnegegaan en was almal geklee in swart en blou oorpakke en wit floppies.
Een van die verdagtes was met ’n vuurwapen gewapen en het ’n werker in die winkel daarmee gedreig, terwyl kliënte gedwing is om op die vloer te lê.
Die verdagtes het met ’n onbekende bedrag geld, selfone en klere weggekom.
Niemand is tydens die rooftog beseer nie en geen skote is afgevuur nie.
Die polisie ondersoek ’n saak van besigheidsroof. Geen arrestasies is nog gemaak nie.




