Nóg ’n taxi-man is die naweek in De Doorns afgemaai.
Hierdie is die tweede agtereenvolgende naweek waar op mense in dié dorp geskiet is.
Saterdagaand (24 Februarie) het vyf mense in ’n geparkeerde taxi met drankies gesit en kuier.
“Dit was tydens beurtkrag, net voor 22:00, toe die insittendes van die taxi twee mans aangeloop sien kom. Die twee mans het toe, sonder om enigiets te sê, net op die taxi begin skiet. Die insittendes het almal platgeval en sodra hulle kon, het hulle weggehardloop,” sê ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie.
Die een insittende het egter besef sy broer was nie saam met hulle nie.
“Hulle is toe terug na die toneel, waar hulle sy broer, die 24-jarige Yamkela Bongelo, dood aangetref het. Hy het ’n skietwond in die kop gehad. Hy was die bestuurder van die taxi en het ook ten tyde van die skietery in die bestuurdersitplek gesit.”
Nie een van die ander insittendes is tydens die voorval raakgeskiet nie.
“Ons het tans geen inligting oor wat die rede vir die skietery was nie. Dit kan ook nie in hierdie stadium bevestig word of die skietery enigsins met taxigeweld verband hou nie,” sê die woordvoerder.
’n Paar weke gelede is ’n man, wat personeel en skoolkinders op ’n deeltydse basis vervoer het, doodgeskiet.
Die oorledene het Woensdag 31 Januarie saam met drie ander mans in sy Toyota Avanza gery. Toe hulle stilhou, het twee skieters op hulle losgebrand en die bestuurder is op die toneel dood.
Nog ’n man, ’n 40-jarige taxi-eienaar, is verlede week saam met ’n 28-jarige vrou geskiet. Hy het later aan sy wonde beswyk.
Daar was Saterdagaand, net ná die bogenoemde voorval, ook ’n poging tot moord. “Twee verdagtes wou ’n man van sy selfoon en beursie beroof. Toe hy weier om dit vir hulle te gee, het die een hom in die been geskiet en van die toneel af gevlug.”
Volgens inligting het ander taxibestuurders en -eienaars in De Doorns Dinsdag ’n gedenkdiens vir die oorledenes gehou.
Niemand is nog weens enige van die voorvalle in hegtenis geneem nie.

