Een persoon is dood en nog een gewond in twee afson­derlike skietvoorvalle in Worcester.

Dit was die soveelste agter­eenvolgende naweek waarin ’n skietery plaasvind.

In die eerste voorval is ’n man doodgeskiet nadat hy glo nie ’n sigaret vir die verdagte gehad het nie. Die voorval het op die hoek van Villiersdorp- en Albatros­sstraat in Avianpark gebeur.

Volgens AO Vathiswa Jacobs, polisiewoordvoerder, het die polisie met hul aankoms Saterdag (26 Februarie) om 06:06 ’n man aangetref waar hy naby die winkel in Albatrossstraat gelê het.

“Die slagoffer het een skietwond aan die agterkant van sy kop gehad en hy het op sy maag gelê.”

Volgens ’n ooggetuie het die verdagte die oorledene genader en vir ’n sigaret gevra en die oorledene het nie een gehad nie.

“Volgens die getuie het die verdagte ’n vuurwapen uitgehaal en die slagoffer van agter in die kop geskiet. Die verdagte het wegge­hardloop,” sê Jacobs.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

In die tweede voorval Sondag 27 Februarie omstreeks 21:50 is ’n man in vermoe­delik ’n bendeverwante voorval op ’n sypaadjie voor ’n huis in Rhodestraat, Roodewal, geskiet.

Volgens Jacobs word daar beweer dat die verdagtes met ’n vuurwapen na die slagoffer op die sypaadjie gestap en vier of vyf skote in die rigting van die slagoffer geskiet het. Hy is in die kop en bors getref en die verdagtes het van die toneel gevlug.

Die slagoffer is hospitaal toe geneem en ’n saak van poging tot moord word ondersoek. Geen verdagtes is nog aangekeer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article