Nog ’n lyk is in ’n plaasdam buite Worcester gevind.
Op Vrydag 4 November het ’n man op ’n plaas in die Brandwacht-area net buite Worcester op ’n plaas gestap en opgemerk dat iets in die water van die dam dryf. Tydens verdere ondersoek is bepaal dat dit inderdaad ’n man se liggaam was.
Die persoon het dadelik die polisie in kennis gestel.
“Met aankoms het die polisie ’n lyk sien dryf wat reeds in die dam ontbind het. Die oorledene se identiteit is tans onbekend en ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen,” het AO Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie gesê.
Standard het verlede week berig oor ’n soortgelyke voorval by ’n plaasdam teen die N1, sowat 3 km buite Worcester in die rigting van De Doorns.
’n Plaaswerker wat aan ’n pomphuis gaan werk het, het opgemerk hoe ’n kollega se hond aan die lyk gekou het. Die polisie is ook dadelik in kennis gestel.
Hierdie man se identiteit is ook steeds onbekend.

