Werkers by ’n waterbehandelingsaanleg in De Doorns het op ’n fetus afgekom.
Volgens ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie is hulle voorverlede Sondag om 17:40 daarvan in kennis gestel.
“Werkers by die aanleg het die baba in een van die inlaatpype gevind. Die sif wat oor die pyp se opening is, het die fetus gekeer om verder in die aanleg weg te spoel,” het die woordvoerder verduidelik.
Dit is nie die eerste keer dat ’n fetus in die aanleg aangetref is nie. Volgens die polisiewoordvoerder is hierdie die tweede fetus wat vanjaar in De Doorns gevind is.
Standard het in September berig oor ’n groep gemeenskapslede wat daaraan werk om ’n Baby Saver (bababoks) in die dorp op die been te bring. Die groep wat vir die bababoks in Kerkstraat, Worcester, verantwoordelik is, het die gemeenskap van De Doorns genader om dieselfde inisiatief daar te begin. ’n Baby Saver is ’n boks waar mammas wat voel hulle kan nie na hul kinders omsien nie, hul babas kan plaas. Nadat die deur van die boks toegemaak is, gaan ’n alarm af, wat alle nodige partye in kennis stel. Die baba word dan ondersoek. Daarna word die baba in sorg geplaas, waarna ander belanghebbendes intree.
Toe Standard oor die De Doorns-projek berig het, het die groep nog na ’n veilige plek gesoek waar hulle die Baby Saver in ’n muur sou kon inbou.
“Ons het nie weer vergader nie, maar nog ’n beplanningsvergadering word eersdaags beplan. Ons besef hierdie boks is ’n behoefte in ons dorp en ons moet baie dringend ingryp,” het Miga Coetsee van die NG Murray-gemeente gesê. Hy nooi ook enige inwoner in die gemeenskap om by die projek aan te sluit. Bel hom by die Murray-gemeente se kerkkantoor by 023 356 2359.


