Kinders in Avianpark het Maandag (22 Mei) op die lyk van ’n baba afgekom.
“Die polisie is om 12:30 deur die gemeenskap ontbied nadat die kinders die babalykie naby die Villiersdorp-pad gesien het,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie.
Sy verduidelik verder dat die baba, waarvan die geslag onbekend is, in ’n plastieksak gevind is.
“Die kinders het die plastieksak, met die baba in, in ’n sloot gewaar terwyl hulle daar gespeel het. Die baba was ongelukkig reeds dood teen die tyd dat dit ontdek is.”
In hierdie stadium weet niemand nog wie se baba dit is nie. Die polisie ondersoek tans ’n saak van verberging van geboorte.
Ma’s wat nie hul babas wil hê nie, of wat voel hulle sal nie na hul babas kan omsien nie, word herinner van die Bababoks in Kerkstraat by die NG Moedergemeente se pastorie. Die boks is in die omheining van die huis ingebou. Sodra ’n ma haar baba in die boks sit, gaan ’n alarm af wat die nodige nooddienste en ander rolspelers in kennis stel. Die baba word dan deur paramedici ondersoek om seker te maak die baba is gesond en word dan aan die ander relevante rolspelers oorhandig om die kind se oorlewing, veiligheid en voortbestaan te verseker.
Ma’s word ook aangemoedig om raad by klinieke te vra wanneer hulle hul in ’n situasie bevind waar hulle nie die baba wil hê of nie na die nuweling kan omsien nie.



