Dit is die derde geval in sowat 30 dae waar ’n baba dood gekry is – hierdie keer naby die hoek van Baring- en Durbanstraat. Die werkers se gereedskap lê links van die sloot waar die baba gevind is. Foto: Dominique Jeftha


Nog ’n baba is Dinsdag (5 April) in ’n sloot in die dorp gevind. Dit is die derde geval in sowat 30 dae waar ’n baba gekry is en die tweede keer dat dieselfde span skoonmakers dié gruvonds doen.

Standard het op 3 Maart (“Baby gets second chance at life’’) en 17 Maart (“Baby found covered in blood”) berig oor babas wat onderskeidelik in Paglande en Lubisi, De Doorns, tussen vullis gevind is.

Hierdie keer is ’n baba ’n paar meter weg van die hoek van Baring- en Durbanstraat in die rigting na die begraafplaas gevind. Die werkers wat op die baba afgekom het, was duidelik geskok toe Standard op die toneel aankom.

Die werker wat op die baba afgekom het, het gevra om nie sy naam te laat noem nie. Hy het omstreeks 10:50 op die lykie afgekom toe hy die sloot skoongemaak het. Hy het vullis en sand met ’n graaf uit die sloot geskraap.

“Toe ek die sand uitskraap, het ek ’n sak saam uitgetrek. Ek wou die sak in die swart sak sit, maar iets het vir my gesê ek moet kyk wat in die sak is. Ek het die sak oopgemaak en die baba gesien. Ek het onmiddellik een van die ander mense geroep, wat toe die toesighouer ontbied het.”

Hy sê hy wou nie nog verder kyk nie en het net die kind se kop gesien.

“Die ander het vir my gesê die kind is aangetrek en iets was om die baba se nek gebind,” sê hy. Volgens Esegiël Samuels, eienaar van EGS Maintenance, is dit die tweede keer dat sy skoonmaakspan op ’n baba afkom. Hy sê sy werkers is erg getraumatiseer, veral die werker wat op die baba afgekom het.

“Een van ons werkers het verlede keer – so maand gelede – die baba in ’n vullisdrom in Paglande gekry. Vandag het ons weer ’n baba gekry – dié keer in die sloot, onder die slootbruggie waar die werkers skoonmaak,” sê Samuels.

Serine Lintnaar, toesighouer van die groep werkers, sê dit is hartseer, want die ma kon die baba by die hospitaal afgegee het. Sy sê hulle kry gereeld snaakse goed soos dierevelle, maar beklemtoon dat die probleem waar babas weggegooi word, moet end kry.

Samuels voeg ook by owerhede moet ernstig soek na ’n oplossing sodat ma’s wat nie hul babas wil hê nie, die pasgebore kinders by ’n veilige plek kan afgee.

Mediese personeel op die toneel het bevestig dat die baba dood gekry is. Die polisie ondersoek die saak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article