Klagtes oor die beweerde wanbestuur van Awendrus rol steeds in. Foto:


Klagtes oor die beweerde wanbestuur van die Awendrus-tehuis stroom steeds in sedert Standard & Gazette in Julie daaroor berig het.

Verlede week het ’n bekommerde inwoner, wat verkies om anoniem te bly, nog ’n brief hieroor ingestuur.

Die beweerde aantygings stem ooreen met dié wat al telkemale met Standard & Gazette deur verskeie individue op verskeie geleenthede gedeel is.

Vroeër is berig dat die tehuis glo gereeld ’n tekort aan kos het. Daar was ook sprake van stukkende wasmasjiene wat daartoe gelei het dat inwoners se vuil klere opgehoop het.

In die brief wat verlede week ontvang is, skryf die outeur dat die probleme glo veel erger is as wat in die vorige berig gepubliseer is.

“ ’n In-diepte verrassingsondersoek is bitter nodig om te verseker dat daar nie meer toesmeerdery voorkom nie,” lui die eerste paar lyne van die brief.

Die persoon skryf ook dat hy/sy liefs nie sy/haar naam bekend wil maak nie, uit vrees vir weerwraak en intimidasie.

Die brief, wat twee bladsye lank is, lui verder: “Daar is onlangs inspeksie gedoen, maar niks het verander of verbeter nie en die uitslae is nie bekend gemaak nie. Die Valke sal ’n goeie opsie wees [om ondersoek in te stel]. Die personeel se vakbond kry niks uitgerig nie en het selfs die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie (CCMA) genader, maar hulle kon nie help nie.”

Verder beweer die outeur van die brief dinge het begin agteruitgaan toe die huidige bestuurder aangestel is.

“Hy is berug vir foutiewe besluite en vermoedelik besig met bedrywighede tot sy finansiële voordeel. Daar word ook beweer dat die munisipaliteit baie keer laat betaal is en dat van die skuld afgeskryf is. Selfs die personeel se maandelikse pensioenbydraes is vir ’n lang tyd nie aan die betrokke firma oorbetaal nie. Jaarlikse verhogings en bonusse is seldsaam”

Soos voorheen ook berig, maak die anonieme skrywer van die brief weer melding van hoe kosaankope en maaltye vir die bejaardes aangepas is.

Die skrywer beweer ook dat ’n lid van die bestuur items wat aan die tehuis geskenk is, aan die personeel verkoop het.

“Waar is daardie geld heen?” vra die skrywer.

Gerugte dat besoekers belet word om hul bejaarde familie en vriende in hul kamers te gaan besoek, is ook al talle kere met Standard & Gazette gedeel. Die skrywer maak ook melding hiervan.

Standard & Gazette het die brief aan die departement van maatskaplike ontwikkeling gestuur vir kommentaar en om te vra wat die bevinding was van hul besoek wat vir Augustus beplan was.

“Die beplande besoek in Augustus moes herskeduleer word weens ander dringende sake waaraan personeel moes aandag gee. Daar sal egter binnekort weer ’n besoek gehou word, gebaseer op hierdie nuwe bewerings,” sê Monique Mortlock-Malgas, ’n woordvoerder van die departement.

Sy verduidelik ook dat die bewerings in die brief ondersoek sal word. Dit is egter onduidelik of die bevindings met die media of die publiek gedeel sal word.

“Die bewerings in die brief sal ondersoek word en terugvoer sal verskaf word,” sê Mortlock-Malgas wel.

Sy vra ook dat die families van die tehuis se inwoners die departement moet nader, en sy verseker dat klagte anoniem hanteer sal word.

“Familielede moet hul bekommernisse en klagte onder die aandag van die departement bring. Mense word die geleentheid gebied om anoniem te bly. Alle klagte word ondersoek en terugvoer word aan die fasiliteit en aan die klaer verskaf. Die aanbevelings (indien enige) word dan gemonitor via ’n dienslewering-verbeteringsplan.”

Standard & Gazette het ook gevra hoe gereeld die departement welstandsondersoeke uitvoer, en of enige besoeke wel uitgevoer word.

“Prestasiemonitering, gesondheidsoudits en organisatoriese monitering word by die fasiliteit uitgevoer. Onderhoude met inwoners word gevoer wanneer spesifieke kwessies, soos die gebrek aan kos, uitgelig word. Die departement het met verskeie inwoners gepraat om uit te vind of hulle tevrede is met die etes en ook of die kos wat ontvang is, voldoende is,” sê Mortlock-Malgas. . Standard & Gazette het by die bestuurder probeer navraag doen, maar was onsuksesvol.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article