Eileen Coetzer het in 2012 in ’n oop drein geval en wag steeds dat die munisipaliteit haar mediese koste moet betaal.
Coetzer het ’n blinde vrou oor die pad gehelp toe sy in die drein geval het.
“Daardie Vrydagaand het ons twee KFC toe gestap om iets te gaan kry om te eet. Ek het die pad in Russelstraat met die blinde aan my arm oorgesteek, en soos ek stap, kom ’n voertuig by ’n woonstelblok uitgery, maar wys ons kan om hom loop, en daar trap ek in ’n drein waarvan die deksel afgesteel is,” verduidelik Coetzer.
Volgens haar het sy veelvuldige beserings as gevolg van die val opgedoen.
“Ek het my been seergemaak, my nek het in spasma gegaan en ek het ook my rug beseer. Van daardie dag af kon ek nie meer my werk reg doen nie.”
Sy het voorheen as ’n batteryspesialis gewerk.
“My nek pyn gedurig. Dit het veroorsaak dat ek nie meer my werk reg kon doen nie – ek kon nie meer swaar goed optel nie. Ek het toe maar vir my ander werk gesoek wat nie fisiek so veeleisend is nie, maar dit het ook beteken dat ek ’n kleiner salaris verdien.”
Coetzer verduidelik verder dat sy geen vergoeding van die munisipaliteit wil hê nie, maar net dat hulle haar mediese koste moet betaal.
“Ek kan steeds nie bekostig om vir regte X-strale te gaan nie. My nek pyn konstant, maar ek weet nie wat werklik fout is nie.”
Standard & Gazette het by die Breedevallei-munisipaliteit navraag gedoen en gevra of die munisipaliteit bewus is van die voorval wat in 2012 gebeur het.
“Ja, die beweerde voorval het in 2012 plaasgevind, en is in dieselfde tyd by die munisipaliteit aangemeld en volgens die genoemde prosedurele raamwerk hanteer,” het Chad Malgas, ’n woordvoerder van die munisipaliteit, gesê.
Hy noem ook dat die eis van Coetzer van die hand gewys is.
“Die raad se Versekeringsbestuursbeleid skryf die protokol en prosedurele raamwerk voor vir die hantering van beweerde voorvalle wat ’n openbare aanspreeklikheidseis teen die munisipaliteit kan veroorsaak. Sulke eise word behoorlik oorweeg ingevolge die deliktereg. Nadat die raad se versekeraar die feite deur mev. Coetzer beoordeel het, is die eis van die hand gewys,” verduidelik Malgas.
Hy voeg ook die volgende by: “Alle openbare aanspreeklikheidseise word volgens die voorgeskrewe administratiewe reëls, standaarde en beleide hanteer. Die feit dat ’n voorval by die burgemeester aangemeld word, impliseer of waarborg nie ’n gunstige uitkoms nie.
“Kortom – alle beweerde voorvalle moet by ons finansiëlediensteafdeling aangemeld word, wat interne assesserings fasiliteer om die waarheid van die beweerde voorval te bepaal voordat dit na ons aangestelde versekeringsdiensverskaffer verwys word vir oorweging.”



