’n Groep paniekbevange nierpasiënte wat dialise by die B. Braun Avitum Renal-sorgsentrum in Worcester ontvang, het na Standard & Breederivier Gazette uitgereik toe die watertoevoer na dié sentrum weens ’n gebarste waterpyp vir ure afgesny was.

Een van die pasiënte, Jonathan Maarman, sê: “Toe ons vanoggend halfvyf daar [by die sentrum] kom, was daar niks water nie.

“Ons was veronderstel om van 05:00 af dialise te ontvang, want ná ons kom daar nog pasiënte.

“Dié mense [wat ook dialise moes ontvang] hier by my is van Worcester, Zwelethemba, Ashton en Wolseley. Nog twee ander is van Robertson en Ceres.”

“Ek moet vandag [7 Augustus] dialise ontvang. Ons kry Maandae, Woensdae en Vrydae dialise.

“Môre kom daar weer ander pasiënte vir dialise, dan is daar nie plek vir ons nie.

“Ons is paniekbevange en ons stres. ’n Mens kan hart- en nierversaking kry.”

Darryl Verhoog, wat ook dialise by die sentrum ontvang, sê: “Die vloeistof moet uit, want dit kan ’n uitwerking op jou hart hê.

“Die hart kan ingee as gevolg van die oortollige vog en gifstowwe in jou liggaam. Die gifstowwe bou op en dit kan jou laat sterf. Dit maak ons bekommerd.

“Jy kan in die nag in jou slaap beswyk as gevolg van die oortollige vloeistowwe en die gifstowwe wat in die liggaam agtergebly het.”

Maarman meen die sentrum kort in so ’n geval gewis ’n plan B.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article