Junie is die verjaarsdagmaand van die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) in Worcester.
Die NID vier 142 jaar van diens aan Dowes en mense met gehoorverlies op 15 Junie.
Die organisasie se visie bly onveranderd – die holistiese ontwikkeling van die volle potensiaal van mense met gehoorverlies in Suid-Afrika deur noodsaaklike gehaltedienste te lewer. Dít word bereik deur dienslewering aan Dowe begunstigdes in drie afdelings.
By NID se afdeling vir volwassesorg (lewensruimte) bied ons ’n holistiese, terapeutiese en veilige omgewing wat die unieke behoeftes van meervoudig-gestremde Dowe volwassenes ondersteun. Hier kan elke inwoner binne ’n vreedsame en doof-vriendelike gemeenskap floreer. Terapeutiese aktiwiteite en ontwikkelingsprogramme bevorder selfvertroue en individuele groei onder ons inwoners.
NID se afdeling vir bejaardesorg (Shalom) sien om na bejaarde Dowes wat residensiële sorg benodig in ’n doof-vriendelike omgewing. Toegewyde personeel versorg en ondersteun hulle daagliks in ’n liefdevolle huislike atmosfeer, wat ook in hul unieke kommunikasiebehoeftes voorsien.
Die NID-Gebaretaalsentrum bedien beide die Dowe en horende gemeenskappe deur inhoud te ontwikkel en deur navorsing in Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) te doen. Die doel van hierdie departement is om die lewe van Dowe Suid-Afrikaners te verbeter deur hulpbronne te skep vir enigiemand om SAGT te kan leer. Projekte soos die aanlyn SAGT-kursus en die aanlyn SAGT-videowoordeboek lok groot belangstelling en het al reusagtige sukses behaal.
Die NID se 142 jaar van diens aan Dowes en mense met gehoorverlies sal egter nie moontlik wees sonder die hulp en ondersteuning van kosbare vriende en vennote nie. Ons is dankbaar vir ongelooflike seën, groei en ondersteuning oor al die jare. Baie dankie aan elke mens en onderneming wat die pad getrou saam met ons stap. Oop hande en oop harte is ons bousteen tot nog 142 jaar van diens aan Dowes. Ons Dowes en mense met gehoorverlies sê baie dankie.

