By die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) is ons opgewonde oor die nuwe jaar wat voorlê. Hoewel ons al vir soveel jare ons dienste aan ons begunstigdes lewer, is ons steeds opgewonde oor ’n nuwe jaar.

Dit gee ons die geleentheid om die uitdagings van die verlede agter ons te sit, om die goeie tye van die verlede te onthou en om die lesse wat ons uit die verlede geleer het, in ag te neem.

Dit gee ons die gevoel dat ons nuut kan begin en net die goeie ervarings vorentoe kan dra.

Maar ons is ook baie bewus daarvan dat die nuwe jaar sy eie uitdagings gaan bring. Daarom het ons ’n leuse nodig wat as riglyn kan dien oor hoe ons die uitdagings wat oor ons pad kom, kan aanpak.

Vir 2023 is ons NID-leuse “Doen aan ander soos jy wil hê hulle moet aan jou doen”.

Hierdie woorde uit Jesus se leringe, soos opgeteken in Lukas 6:31, is die kern van ons bestaan by NID. Ons doel is om aan Dowes en persone met gehoorverlies dieselfde toegang te gee tot die voordele van die lewe waartoe ons almal toegang het. Toegang tot geleenthede, tot dienste, tot inligting, tot kennis, tot kommunikasie, tot sosiale netwerke, tot omgee en tot soveel meer.

My wens is dat ons almal ons take wat voorlê gedurende die jaar sal aanpak met hierdie leuse in gedagte. Die resultaat sal ’n verbetering in ons dienste en ’n verbetering in die lewe van ons begunstigdes bring.

Die bonus vir ons is dat die voordeel van hierdie manier van doen sal terugkeer om ons en almal wat ons teëkom op ons reis van 2023 te seën.

Cobus van Deventer is die uitvoerende hoof van NID.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article