Worcester se Nasionale Instituut vir Dowes (NID) bied reeds 143 jaar lank onbaatsugtige diens aan die Dowe gemeenskap.


Die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) in Worcester vier op 15 Junie 143 jaar se diens aan Dowes en mense met gehoorverlies. Die NID se visie bly onveranderd – die holistiese ontwikkeling van die volle potensiaal van mense met gehoorverlies in Suid-Afrika deur noodsaaklike gehalte-dienste aan hulle te lewer. Dít word bereik deur dienslewering aan Dowe begunstigdes in twee afdelings.

Vreugde. Tevredenheid. Familie. Tuiste. Dít is die gevoel wat jou begroet by NID se sorg-afdeling. Ten spyte van gestremdhede, beperkings en uitdagings, word jy hartlik verwelkom deur die 43 meervoudig gestremde en 33 bejaarde Dowe inwoners wat hier tuisgaan. NID bied ’n holistiese, terapeutiese en veilige omgewing wat die unieke behoeftes van hul inwoners ondersteun.

Hier kan elke inwoner binne ’n vreedsame en doof-vriendelike omgewing floreer. Terapeutiese aktiwiteite en ontwikkelingsprogramme bevorder selfvertroue en individuele groei onder inwoners. Toegewyde personeel versorg en ondersteun hulle daagliks in ’n liefdevolle huislike atmosfeer, wat ook in hul unieke kommunikasiebehoeftes voorsien. Dit is ’n wenresep wat met liefde, deernis en passie gevolg word om te verseker dat elke kosbare inwoner tot sy of haar volle potensiaal ontwikkel.

Geen bron van inligting en kennis moet ontoeganklik wees vir Dowes en mense met gehoorverlies nie. Die NID se Gebaretaalsentrum bedien beide die Dowe en die horende gemeenskappe deur inhoud vir Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) te ontwikkel, toeganklikheid te bevorder en navorsing in SAGT te doen. Die doel van hierdie afdeling is om die lewe van Dowes te verbeter deur hulpbronne te skep vir enigiemand om SAGT te kan leer en sodoende kommunikasie-hindernisse op talle klein en groot maniere uit die weg te ruim.

Projekte soos die Aanlyn SAGT en leerlinglisensie-kursus asook die Aanlyn SAGT-video-woordeboek- en geletterdheidsprojek vir Dowe leerders, lok groot belangstelling en het al reuse- sukses behaal.

NID se 143-jaar-mylpaal is egter nie moontlik sonder die oop harte en hande van mense nie. As organisasie sonder winsoogmerk word NID deur die geloof en omgee van kosbare vennote en vriende gedra. NID sê baie dankie aan elkeen wat met hom hande vat en die pad saam met hulle stap.

Vir meer inligting of as u graag by NID betrokke wil raak, kontak hulle gerus by fr.nid@nid.org.za. Indien u graag ’n bydrae wil maak ter viering van NID se 143 jaar van diens aan Dowes, kan ’n oorbetaling gemaak word aan: NID Ontwikkeling, Absa Bank, rekeningnommer 911 845 2209, taknommer 632 005, verwysing: 143 (naam en van). Kontak NID ook gerus vir ’n behoeftelys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article