Die NG Moedergemeente streef daarna om die kerkhof tot sy volle glorie van ouds te herstel.
Die kerkhof, oftewel begraafplaas, was van 1889 tot 1982 in gebruik.
“Die kerk se begraafplaas is later nie meer gebruik nie, omdat dit vol begin raak het en party mense is na ander NG kerke, wat in later jare op die dorp begin is,” verduidelik Philip Pool, koster en onderhoudsbeampte van die kerk.
Oor die jare het al minder en minder mense die kerkhof besoek en nog minder mense het hul familie se grafte in stand gehou.
“Daai jare – toe mense grafte in die kerkhof gekoop en later gebruik het – was die ooreenkoms dat die families van die oorledenes die grafte in stand sal hou en skoonmaak en die kerk sal die paadjies in die kerkhof netjies hou,” verduidelik Pool.
Verder verduidelik hy die instandhouding van die begraafplaas sou ’n groot onkoste vir die kerk inhou.
“Dit is alles goed en wel as iemand die begraafplaas skoonmaak, maar dit moet gereeld gedoen word en ons moet elke paar maande onkruiddoder spuit. Ons het doodeenvoudig nie die geld of personeel om dit in stand te hou nie.”
Die kerk het ’n plan opgestel waarin hy drie opsies om met hierdie dilemma te help, voorstel.
“Ons eerste opsie is dat ons die onderskeie NG kerke in die dorp vra om ’n jaarlikse bydrae tot die skoonmaak van die begraafplaas te skenk. Dit sal dan verseker dat ons genoeg geld het om die begraafplaas ook elke paar maande chemies te bespuit. Die tweede opsie stel voor dat ons die paadjies in die begraafplaas opverdeel in grafte en dit dan verkoop, wat ook sal help dat ons genoeg geld sal inkry vir hierdie spesifieke doelwit. Die laaste opsie, en een wat ons eerste gaan probeer instel, is om die kerk se boeregemeenskap te vra om op hul stil dae ’n deel van hul werkerskorps af te staan om te help met die opknapping van die begraafplaas,” het hy verduidelik.
Volgens Pool is die derde opsie een waaraan hulle eerste aandag gaan gee.
“Hierdie, dink ons, is die maklikste opsie om vir eers te volg. In hierdie stadium sal enige vorm van hulp welkom wees. Die oplossing of plan waarmee ons uiteindelik vorentoe gaan moet beweeg, moet volhoubaar wees. Die belangrikste is dat ons mense nodig gaan hê wat fisiek sal inspring en op Saterdae sal help skoonmaak, en genoeg geld, want onkruiddoder is duur. Ons het ook net algemene betrokkenheid nodig.”
Laastens, meen Pool, is dit hartseer om te sien hoe die kerk se begraafplaas oor die jare verval het.


