Die hyskraan aan die werk om die kerk se toring en haan te vervang. Foto’s: NG kerk Goudini/Facebook


Die gewilde NG kerk Goudini in Rawsonville pronk weer met nuwe vere nadat sy splinternuwe toring én haan die afgelope Maandag (27 Maart) ná opknappingswerk aan dié legendariese strukture weer staangemaak is.

Volgens ds. Rudolph Sharneck is die toring en haan met ’n hyskraan opgehys en gemonteer nadat die vorige stukke, wat verouderd was, verwyder is.

“Die nuwe toring en haan bestaan uit vlekvrye staal en is presies dieselfde kleur en vorm as die voriges,” het Sharneck telefonies aan Standard gesê.

Lidmate sowel as boere in die gemeenskap en inwoners van Rawsonville het hierdie projek moontlik gemaak deur die meeste van die geld vir die projek aan die kerk te skenk. Die res van die koste het uit die kerk se spaargeld gekom, maar volgens Sharneck was dit minimaal.

“Ons [NG gemeente Goudini] is regtig verras oor die mense se hulp en is baie dankbaar daarvoor,” het Sharneck gesê.

Die kerk het sommer tjoef-tjaf genoeg geld gekry om dié projek te voltooi nadat hy in die middel van 2022 met geldinsameling begin en teen November genoeg geld gehad het om die nuwe strukture in Porterville te laat maak.

Volgens Sharneck was dit hoog tyd vir opknappingswerk omdat die toring en haan reeds 60 jaar oud was. Die veselglas het gate in gehad en die boute was al deurgeroes.

Die restourasie aan dié strukture is deel van ’n groter opknappingsprojek wat die kerk begin het, wat insluit om die kerksaal aan die binne- en buitekant met nuwe houtvloere en ’n leksel verf te verfraai.

Hierdie deel van die projek is nou afgesluit nadat die kerktoring en sy maatjie, die haan, weer terug is op die dak.

Volgens Sharneck is die omheining van die kerk – om vandalisme te voorkom – sowel as restourasie van die pastorie volgende op die gemeente se lysie.

Volgens die gemeente se Facebook-blad is die kerk reeds 130 jaar oud nadat die eerste preek in 1893 gelewer is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article