Die bekroonde haan op die NG kerk in Rawsonville se toring sal vir die volgende ruk nie kraai nie danksy nodige herstelwerk.
Gemeenskapslede was baie geïnteresseerd toe die kerk se toring, asook die haan op die toring, verwyder is vir herstelwerk onlangs.
Hierdie kerkgebou wat ’n diep en ryke geskiedenis het, het ook op sosiale media die nuus gedeel.
“Vandag is die geskiedkundige dag waar ons kerk se toring verwyder is. Die toring was werklikwaar baie verweer. Die struktuur was met hout en veselglas oorgetrek. Die hout was vrot en die veselglas baie oud. Ons is dus dankbaar teenoor almal wat bygedrae gelewer het om dit moontlik te maak dat ons ’n nuwe toring kan opsit,” lui die inskrywing.
Inwoners was geskok om hierdie gebeurtenis te gewaar en het ook op sosiale media begin vrae vra.
Die kerk het inwoners en gemeentelede gerusgestel oor hierdie verwikkelinge en gestel dat die vervanging nodig is.
“Die toring is al meer as 50 jaar oud en dit was tyd om iets daaraan te doen.”
Hulle het ook ’n tydelike staaldak opgerig om die gebou in die tussentyd te bedek.
“Die huidige dakkie sal net bly tot ’n nuwe toring van vlekvrye staal gemaak is. Die haan sal dan ook weer sy plek inneem.”






