Die plaaslike Breedevallei-plaaswag (BFW) tesame met die G24-sekuriteitsfirma en Vetus Schola in Rawsonville is ’n gedugte span wat tans saam met die plaaslike polisie misdaad in die gebied stuit.
Hierdie groep is die afgelope paar jaar aktief in die gebied betrokke om misdaad te beheer en om inwoners waar nodig by te staan.
Op hul Facebookblad deel hulle gereeld inligting met inwoners en het ook talle WhatsApp-groepe wat juis gestig is om kommunikasie in die gebied te bevorder.
Nico Harmse van G24 verduidelik aan Standard dat dit ’n gesamentlike poging is om veiligheid in die gebied op te skerp en as ’n gemeenskap saam te werk om kwaaddoeners in hul spore te stuit.
“Ons werk in verskeie dele van die Breedevallei, maar het ’n netwerk met nabye dorpe en streke om kundigheid te deel en mekaar verder so by te staan,” verduidelik hy.
Hy vertel ook dat veral boere in die omgewing baat vind by hul diens en dat dit ’n gesamentlike poging is om misdaad te fnuik.
“Dit is werklikwaar ’n eer om hierdie omgewing en gemeenskap te dien. Veral plaasaanvalle is die norm deesdae, en ons sal alles in ons vermoë doen om dit te bekamp. Ander misdade is vir ons netso belangrik.”
In Desember het Harmse en die talle rolspelers betrokke ’n rooftog in Rawsonville gekeer, ’n motordief vasgetrek en verskeie slenters soos druiwesmouse en kwaaddoeners gestuit.
Harmse verduidelik dat veiligheid eintlik by jouself begin en dat betrokkenheid en kommunikasie ’n lewe kan red.
“Maak eerstens seker jy en jou gesin is veilig. Ons het verskeie wenke oor hoe om jou en jou eiendom te beveilig. Die beste is om aktief in die omgewing betrokke te raak. Werk aan ’n noodplan vir jou en jou gesin sou iets by jou woning gebeur en skep ’n veilige omgewing met nodige hulpbronne soos kos, water, ’n mediese tas en ’n middel om kontak te maak met bure, die polisie of die plaaswag.”
. BFW kan op Facebook gevolg word en hul kontakbesonderhede is ook op die blad beskikbaar.


