Na-Eemah Titus (19) en Sammaree Matthews (17) is twee vriendinne wat ’n netbalspan op die been gebring het om bewusmaking in die gemeenskap te skep.Foto: JP Myburg


Twee jong vroue van Worcester, wat elkeen ’n hewige stryd teen depressie gevoer het, wil nou deur ’n netbalspan wat hulle onlangs gestig het, bewusmaking onder jongelinge in die gemeenskap skep.

Sammaree Matthews (17) en Na-Eemah Titus (19) het in Augustus verlede jaar Matthews se tannie aan die dood afgestaan nadat sy haar stryd teen depressie verloor het. Sy was ook hierdie twee vroue se vriendin en haar dood het hulle albei erg geraak.

“Dit het hulle baie hard getref omrede sy een van hul grootste ondersteuners op die netbalbaan was. Sy het hulle altyd ondersteun en gemotiveer om ’n loopbaan in netbal voort te sit. Haar teenwoordigheid word nou nog op die baan gevoel,” vertel Matthews se ma, Claudine Thomas, aan Standard.

Titus het verlede jaar gedurende hierdie donker tyd haar matriek aan die Hoërskool Esselenpark voltooi. Matthews was ’n graad 11-leerder by Worcester Sekondêre Skool ten tye van haar tannie se dood.

“Dit het my baie erg geraak en ’n groot invloed op my gehad. Ek is toe uit die skool en gaan my matriek nou privaat verder voltooi,” vertel Matthews.

Thomas sê die afgelope paar maande was baie moeilik.

“Hulle albei het ’n hewige stryd teen depressie gevoer en was selfs op medikasie. Hulle het ook berading ontvang en het ook selfmoordneigings gehad. Sammaree het haarself ook seergemaak en haar eie lewe probeer neem, maar ons kon betyds intree.”

Uit al hierdie hartseer het hierdie twee besluit om meer tyd te bestee om hul liefde vir netbal uit te leef, en toe ’n groep gestig vir jong meisies en selfs seuns wat ’n plek soek om uiting aan hul emosies te gee en iets produktiefs te doen.

“Netbal was hul genesing. Sammaree se tannie het dit geïnspireer en hulle het net begin om alles daarin te sit. Dit is die plek waar hulle kan leef en vry voel. Nou inspireer hulle ander ook sommer.”

Die span se fokus is op die sport, maar hul missie is om deur hierdie span bewusmaking te skep oor depressie, selfdood en selfs geslagsgebaseerde geweld in die gemeenskap.

“Ons is ’n gedugte span en mense van selfs Botrivier, Malmesbury, De Doorns en Montagu het al met ons kontak gemaak om by ons aan te sluit,” vertel Matthews.

Hulle oefen tans ’n paar keer per week in Esselenpark en hoop om hul boodskap by wedstryde en byeenkomste oor te dra en sodoende ander te inspireer.

Thomas sê sy is dankbaar haar dogter en ander mense, wat dieselfde voel, het ’n plek waarheen hulle kan gaan om uiting aan hul emosies te gee.

Dit is ’n plek waar ondersteuning en genesing plaasvind.

“Die feit dat hulle depressie kon oorwin, is meer as ’n inspirasie. Dit wys dat God groter is as enige struikelblokke.

“God kan jou uit ’n donker plek kry en met die regte ondersteuning kan jy gered word. Ouers moet na hul kinders luister en aandag gee aan die goed waardeur hulle gaan. ’n Mens kan dit nie net toeskryf aan ‘hulle gaan deur ’n fase’ nie – om te praat, help,” voeg Thomas by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article