’n Bekende in netbalkringe is die afgelope Sondag ter ruste gelê nadat sy op 12 Oktober aan ’n hartaanval oorlede is.

Merlyn Estelle Brandt (54) het in Worcester grootgeword en is op 13 Mei 2006 met Adriaan Brandt getroud. Sy het gewerk by Rainbow Hatchery en het tot kort voor haar afsterwe in die Worcester-hospitaal op Rainbow / De Wet gewoon.

Brandt se stiefdogter, Liezel Brandt (34), sê Merlyn het sedert gr. 4 netbal gespeel. Sy sê Merlyn het ’n groot passie vir dié sport gehad en was op haar gelukkigste wanneer sy haar staal op die netbalbaan kon wys.

Ella Maarman, ’n vriendin van Merlyn, sê sy (Merlyn) was een van die stigterslede van Greenleaves-netbalklub in De Wet. Sy het vir Greenleaves gespeel en het later ook vir Spartans gespeel en afgerig. Dié kranige netbalspeler het in ’n stadium ook vir Young Stars afgerig en was ook skeidsregter.

Volgens Liezel is Merlyn se dood ’n groot verlies vir netbal en laat sy beslis ’n leemte in netbalkringe.

Sy sê benewens die feit dat Merlyn ’n goeie leier was, was sy ook liefdevol, vol grappe en het altyd ’n glimlag op haar gesig gehad.

Merlyn se begrafnisdiens in die Overhex-saal buite Worcester is deur past. Joey Hayman gelei.

Die huisdiens is gelei deur br. Isak Abrahams. Merlyn laat haar man, Adriaan, vier stiefkinders en ’n kleinkind agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article