Nagenoeg 50 inwoners, onder andere huurders van die Roodewal-woonstelle, sogenaamde “hok”-bewoners en “plathuis”-bewoners het ’n belangrike werksessie oor kragvoorsiening en elektrisiteit bygewoo
Die sessie, aangebied deur Mmoni Suza van die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) en Zonke Majola van die Nasionale Kredietreguleerder (NKR), het ten doel gehad om mense in te lig oor die rol en doel van Nersa en die NKR, hul werksaamhede en hoe om hulp te bekom.
Die Breedevallei-munisipaliteit se elektriese- en finansiële afdelings was ook teenwoordig om vrae te help beantwoord.
Die aanbiedinge was baie insiggewend en het positiewe debat en goeie vrae vanuit die gehoor gelok. Vrae soos hoe Nersa die prys van elektrisiteit bepaal, hoekom elektrisiteit so duur geword het, wat gedoen kan word om elektrisiteit te bespaar en of die munisipaliteit sy eie krag kan opwek, is gevra. Een van die kwessies wat verder geopper is, is hoe gevaarlike kragverbindings in informele nedersettings met wettige kragmeters vervang kan word.
Van die inligting wat oorgedra is, is dat ’n lisensie nie nodig is vir kragprojekte onderkant 100 Megawatt nie. Worcester se behoefte is tans minder as 50 MW. Worcester het ’n steenkoolkragstasie gehad, maar dit is jare gelede gesloop en die lisensie het verval.
Oor die verhoging van elektrisiteitstariewe, het dit aan die lig gekom dat Eskom elke drie jaar om ’n verhoging aansoek doen, en Nersa dan die verantwoordelikheid het om noukeurig na Eskom se motivering te kyk en ’n tarief vas stel. Die tariefverhoging is net ’n aanbeveling, tans is die voorgestelde tariefverhoging 7,47%.
’n Munisipaliteit mag minder as die aanbeveling toepas, maar indien hulle die tarief met meer wil verhoog, moet Nersa genader word om self ’n openbaredeelnameproses te fasiliteer om kommentaar van die gemeenskap te bekom.
Nersa het beklemtoon dat die heffing van bykomende gelde op die verkoop van elektrisiteit, soos wat gebeur by baie spazawinkels, onwettig is en winkeleienaars wat hulle hieraan skuldig maak, hul lisensie kan verloor. Klagtes hieroor kan by die munisipaliteit aangemeld word.
Dié wat die werksessie bygewoon het, is ook ingelig dat huishoudings in informele nedersettings by die plaaslike verspreider van elektrisiteit – die munisipaliteit of Eskom – aansoek kan doen om voorafbetaalde kragmeters.
Op sy beurt het die NKR ’n voorlegging oor skuld, lenings en watter soort hulp vir mense beskikbaar is, aangebied.
Laastens het Maureen Rambhadursing van die organisasie sonder winsbejag, Poor Flat Dwellers Movement, oor menseregte soos die reg op behoorlike, veilige en bekostigbare behuising gepraat. Die organisasie werk oor die hele Suid-Afrika heen om arm gemeenskappe by te staan, veral met regsaksies waar hul regte met betrekking tot behuising geskend word.
Die werksessie het dit duidelik gemaak dat daar ’n groot behoefte is aan inligting en kapasiteit rakende die kwessies van elektrisiteit, krediet en behuising. Die organisasies het belowe om binnekort weer terug te keer om ander gebiede van die Breedevallei en omliggende munisipaliteite te besoek.


