Hoewel sy span die afgelope paar naweke gemengde welslae op die krieketveld behaal het, kolf dié 19-jarige veelsydige krieketspeler van Montagu, Arno Nel, tans die veld aan die brand.
Einde Oktober, toe Montagu op die De Wet-sportveld teen De Wet kragte gemeet en met tien paaltjies geseëvier het, het Nel ’n pragbeurt van 54 lopies (nie uit nie) gespeel.
Twee weke hierna het hy sy uitstekende kolfwerk voortgesit en het ’n skitterbeurt van 123 lopies teen Touwsrivier op Touwsrivier opgevolg. Montagu het daardie wedstryd egter verloor.
Die afgelope Saterdag (18 November) was Montagu in De Doorns in ’n derdeliga-krieketwedstryd teen De Doorns gewikkel en Nel het weer eens met die kolf uitgeblink en ’n stewige 58 lopies gemoker.
Nel en Clyde Oosthuisen (59 lopies) was in ’n vennootskap van 144 lopies om die eerste paaltjie, wat ’n stewige grondslag vir Montagu se oorwinning gelê het.
Dié twee is verder goed deur Jandré Plaatjies, wat 41 lopies geslaan het, ondersteun.
Montagu, wat eerste gekolf het, het 262 lopies vir die verlies van agt paaltjies in sy 50 boulbeurte aangeteken.
Hierna het De Doorns kom kolf, maar kon slegs 100 lopies opstapel voordat die hele span in die 47ste boulbeurt terug in die kleedkamer was.
Henrico Abrahams (26) was die enigste kolwer van De Doorns wat ietwat weerstand teen Montagu se boulaanval gebied het.
Vir die besoekers het Nel (4/14), Peter-James van der Berg (2/18), Keenan Landsman (2/20) en LH Petersen met die bal uitgeblink.
Montagu het die wedstryd met 162 lopies gewen.



