Dit was ’n Paasnaweek van groot gees toe duisende mense byeengekom het om die Paas-musiekfees by Nekkies by te woon.
Oud en jonk, klein en groot het in groot getalle opgetrek om na van hul gunsteling-kunstenaars soos Dr. Victor & the Rasta Rebels, Aidam John en Lil Willy, Early B en die Temple Boys te luister.
Die musiekfees het reeds Sondag 12:00 begin waar mense die geleentheid gehad het om na verskeie platejoggies soos NV Funk te luister.
“Ek is dankbaar vir die energie van die Worcesteriete. Dis baie lieflike mense en daarvoor waardeer ek hulle,” het NV Funk gesê.
Die vermaak is Maandag hervat met groot getalle mense wat dit aanskou het.
Een van die organiseerders, Raymond Essel, het bevestig die getalle het geweldig gegroei van Sondag tot Maandag. “Hierdie fees vind sedert 2018 plaas en soos jy kan sien, groei dit net. Dis mense van oor die Wes-Kaap heen wat hier opdaag en dit is ’n groot inspuiting vir ons dorp,” het Raymond gesê.
Hy het ook bevestig dit was die eerste keer dat die fees oor twee dae gestrek het.
“Dit gaan nie oor geld maak nie, want jy maak nie geld nie. Dit gaan oor die mense. Ons in Worcester is ’n familie, ongeag waarvandaan jy kom.”





