Wêreldkankerdag word hierdie Sondag (4 Februarie) gevier en herinner almal daaraan dat vroeë opsporing en die regte ondersteuning belangrik is en ’n lewe kan red.

Credit: jpmyburg

Wêreldkankerdag, wat elke jaar op 4 Februarie plaasvind, is ’n dag wat daarop fokus om bewusmaking te skep oor die impak van kanker en die aksies wat geneem kan word om die aantal sterftes as gevolg van die siekte te probeer verminder.

In Suid-Afrika het kanker een van die hoofoorsake van sterftes geword. Dit raak ’n groot deel van die bevolking en plaas die gesondheidsorgstelsel onder druk.

Die Suid-Afrikaanse Kankervereniging (Kansa) verduidelik dat kanker die derde grootste oorsaak van sterftes in die land is, naas kardiovaskulêre siektes en MIV/VIGS. Die mees algemene soorte kanker in Suid-Afrika sluit in bors-, long-, prostaat- en kolonkanker.

Benewens die fisieke en emosionele tol wat dit van kankerpasiënte eis, kan die koste van behandeling ’n aansienlike las op gesinne en die gesondheidsorgstelsel plaas.

“Een van die grootste uitdagings om kanker in Suid-Afrika die hoof te bied, is toegang tot sorg. Baie landelike gebiede het nie voldoende geriewe of opgeleide gesondheidsorgwerkers nie, en baie mense kan nie die behandeling, wat buitensporig duur kan wees, bekostig nie. Dit lei tot vertraagde diagnoses en behandelings, wat kan lei tot ’n swakker prognose vir pasiënte,” verduidelik Monique Matthews.

Matthews het in 2011 ’n stryd teen borskanker gevoer toe sy in Worcester gewoon het, en het dit sedertdien haar doel gemaak om ander in te lig en by te staan. Sy besoek die gemeenskap van Worcester en Robertson gereeld om kankerlyers by te staan, en het ook ’n organisasie sonder winsbejag in Swellendam geskep wat mense in die omgewing en so ver as Riversdal met raad bystaan.

“Ons het in 2019 hierheen verhuis nadat my man ’n pos as ’n plaasbestuurder in die streek gekry het. Ek gaan een maal per maand nog Worcester en Robertson toe om mense op my lysie te gaan besoek. Ek vat gewoonlik net ’n sorgpakkie en gaan drink koffie. Ek weet hoe baie bemoediging in hierdie tyd beteken.”

Matthews sê die gebrek aan openbare gesondheidsopvoeding oor kanker en die risikofaktore daarvan is ’n groot uitdaging. Sy beklemtoon ook die vroegtydige opsporing van kanker kan ’n sleutel tot effektiewe herstel wees.

“Baie mense is nie bewus van die belangrikheid van vroeë opsporing en sifting nie, en sal dalk nie mediese hulp soek voordat die siekte reeds in ’n gevorderde stadium is nie. Om hierdie uitdagings die hoof te bied, is dit noodsaaklik dat die regering en ander belanghebbendes in kankervoorkomings- en beheerprogramme belê. Dit sluit in die verskaffing van onderrig en om bewustheid oor kanker en die risikofaktore daarvan te verhoog, toegang tot sifting en behandeling te verbeter, en die gehalte van kankersorg te verbeter,” voeg Matthews by.

Wêreldkankerdag is ’n geleentheid om bewustheid oor die impak van kanker op Suid-Afrikaners te vergroot en om aksie te neem om die impak daarvan te verminder.

“Deur saam te werk om toegang tot sorg te verbeter, openbare onderrig oor kanker te vermeerder en in kankerbeheerprogramme te belê, kan ons help om die aantal voortydige sterftes as gevolg van kanker in Suid-Afrika heelwat te verminder.”

. Vir meer inligting en hulpmiddels, besoek www.cansa.org.za of skakel die Breedevallei Kanker Organisasie (BKO) by 083 287 0604.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article