’n Man het Maandag (5 Junie) op ’n moordaanklag in die Worcester-landdroshof verskyn nadat hy na bewering sy neef met ’n graaf en toe met ’n mes aangeval het.
Nooddienspersoneel het die oorledene, Nathan Beukman (20), van Paulstraat in Roodewal, op die toneel dood verklaar.
AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, sê die oorledene en die verdagte het Saterdagnag omstreeks 00:30 na hul woning teruggekeer nadat hulle vroeër elders gekuier het.
Jacobs sê kort nadat die oorledene en sy neef by hul woning aangekom het, wou hy (die oorledene) weer die perseel verlaat om verder te gaan kuier.
Volgens haar het ’n stryery tussen die verdagte en oorledene ontstaan toe hy (die verdagte) en ’n nabye familielid van die oorledene hom probeer keer het om die perseel te verlaat.
Jacobs sê die verdagte het toe ’n graaf gegryp en die oorledene glo twee keer met die plat kant oor die lyf geslaan.
Sy sê toe die oorledene met die verdagte wou baklei, het hy (die verdagte) by die huis ingegaan en met ’n mes teruggekeer.
Volgens Jacobs het die verdagte die oorledene na bewering twee keer met die mes gesteek – een keer aan die regterkant van sy borskas en een keer aan die linkerkant van sy rug.
Beukman het op die toneel aan sy wonde beswyk.
Die saak is tot 12 Junie uitgestel.
Die verdagte word aangehou.


