Die 18-jarige Naydine Swarts van Tulbagh is dankbaar en opgewonde oor die toekoms nadat sy in verlede jaar se matriekeindeksamen goed presteer het.
Swarts, wat haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Tulbagh voltooi het, het met ’n gemiddelde van 74% geslaag en onderskeidings behaal in Engels en lewenswetenskappe.
“Ek kan net met ’n dankbare hart sê dat ek verskriklik gelukkig is met my punte omdat ek in moeilike omstandighede baie hard gewerk het, maar ek pluk nou die vrugte daarvan.”
Sy vertel dat hul matriekgroep groot uitdagings beleef het.
“Nie net het Covid-19 my onderrig beïnvloed nie, maar ook die samesmeltingproses van die dorp se twee skole. Ons het onderrig ontvang terwyl die bouproses plaasgevind het. Ek onthou nog die eerste dag toe ons besig was om ’n vraestel te skryf hoe moeilik dit was om te konsentreer, want die werkers was besig om te boor. In die begin van my matriekjaar moes ek aanpas by die drastiese verandering wat plaasgevind het toe ons net een hoërskool word. Ten spyte van hierdie proses het ek nog steeds elke dag my beste probeer gee,” vertel sy.
Hierdie jongeling se kop is propvol planne en drome en sy is die eerste persoon in haar familie wat verder gaan studeer.
“Ek is opgewonde om hierdie jaar ’n BSc in molekulêre biologie en biotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer. Ek sien myself oor ’n paar jaar as ’n hardwerkende jong dame wat haar passie uitleef. Ek bly in ’n area waar dit baie uitdagend is om te leer omdat dit baie bedrywig is. Ek woon ook saam met talle familielede in ’n hophuisie. Ek het nooit toegelaat dat dit my verhoed het om te leer nie. Ek het nagte laat wakker gebly om te leer. Dit was nie altyd maklik nie, maar ek het myself altyd daaraan herinner dat ek met God aan my kant berge kan versit.”
Sy was ook lid van die leerlingraad en het deelgeneem aan netbal en die jaarlikse eisteddfod.


