Drie mense is dood en nog een gewond in verskeie gewelddadige voorvalle in De Doorns oor die naweek.

Twee mense is in die eerste voorval, wat Saterdag 17 Februarie in Stofland plaasgevind het, beseer.

“ ’n Veertigjarige man en ’n 28-jarige vrou is raakgeskiet in ’n voorval wat ná 17:00 plaasgevind het. Die man is in sy heup gewond terwyl die vrou in haar bene raakgeskiet is,” verduidelik ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie.

“Albei is hospitaal toe geneem.

“Die man het Dinsdag aan sy wonde beswyk. Dit is in hierdie stadium nog onduidelik wat daartoe gelei het dat op hulle geskiet is.

“Die saak word nog ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

In nog ’n voorval op dieselfde dag net ná 21:00 is op ’n man in sy huis se oprit geskiet.

“Die 50-jarige man, Freddie Williams, was besig om sy voertuig te parkeer toe drie onbekende mans hom nader. Hulle het toe met ’n vuurwapen op hom en sy motor begin losbrand. Hy is in sy rug en arm raakgeskiet. Hy is hospitaal toe geneem, maar het Maandag (19 Februarie) aan sy wonde beswyk. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie,” verduidelik die woordvoerder.

’n 23-jarige man is Sondag 18 Februarie by die sokkerveld in De Doorns-Oos vermoor.

“Die oorledene was voor sy dood in ’n bakleiery met die 18-jarige verdagte betrokke. Die verdagte het hom toe met ’n mes gesteek en hy is op die toneel dood.

“Die voorval het net voor 21:00 plaasgevind. Dit is nog onduidelik wat tot die rusie tussen die twee gelei het.

“Die verdagte is later in hegtenis geneem.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article