Navorsing deur Grow Great in vennootskap met die Universiteit Stellenbosch, Boland Hospies en die Philani Maternal Child Health and Nutrition Trust, het die Kaapse Wynland Distrik in die algemeen en Worcester in besonder geïdentifiseer as die dorp met die hoogste vlakke van stunted/verdwergde kinders in Suid-Afrika.
Grow Great is ’n nasionale veldtog met die visie dat nie ’n enkele stunted/verdwergde kind in Suid-Afrika gebore moet word nie en dat elke kind se liggaam en brein van kleins af reeds goed ontwikkel.
Nicola Eley, Grow Great se adjunk- uitvoerende direkteur, sê die veldtog wil Suid-Afrika mobiliseer om stunting/verdwerging teen 2030 te halveer.
Sy definieer stunting as ’n toestand wat spruit uit langdurige wanvoeding, wat liggaamlike en brein-ontwikkeling beïnvloed.
Eley sê ’n stunted/verdwergde kind is aansienlik korter as die gemiddelde lengte van ’n (gesonde) kind van dieselfde ouderdom.
Volgens Eley is ’n opname oor verdwerging in 2018 in Worcester gedoen. Sy sê data is tussen Julie en Oktober daardie jaar ingesamel.
Die doel van hierdie studie was om ’n profiel te bekom van die voedingstatus van kinders jonger as vyf jaar oud in Zwelethemba, Riverview, Roodewal en Avianpark.
Eley sê hulle wou deur middel van die studie die voorkoms van verdwerging by kinders jonger as vyf in dié gebiede vasstel en die dryfveer vir verdwerging by dié kinders bepaal.
Volgens Eley was altesaam 854 kinders onder vyf jaar by die studie ingesluit. Sy sê 52% was seuns en 48% was meisies.
Volgens Eley was 48% van die kinders onder die ouderdom van twee jaar en 52% ouer, met die gemiddelde ouderdom 27 maande.
Sy sê die meeste (31%) het in Zwelethemba gewoon, gevolg deur Riverview (25%), Avianpark (23%) en Roodewal (21%).
Volgens haar was die gemiddelde ouderdom van die kinders se ma’s 29 jaar. Die meeste (73%) van die ma’s was werkloos. Sy sê 66% van die ma’s het nie hoërskool voltooi nie.
Eley sê na gelang van die data oor die kinders se gesondheid en voeding het dit aan die lig gekom dat meer as ’n vyfde (22%) die mees onlangse ontvangs van ’n Vitamien A-aanvulling gemis het.
Voorts het een uit drie (32%) die mees onlangse toediening van ontwurmingsmedikasie gemis, terwyl een uit drie (32%) kinders tussen ses en 23 maande ’n onvoldoende telling vir dieet-diversiteit gehad het.
Volgens haar is 59% van die kinders jonger as ses maande oud uitsluitlik geborsvoed, wat beteken hulle het net borsmelk ingeneem.
Eley sê hulle het ook gekyk na die gewig, lengte en die omtrek van die middel van die bo-arm van elke kind.
Hulle het bevind 19% van kinders is gebore met ’n lae geboortegewig, wat beteken hulle het by geboorte minder as 2,5 kg geweeg.
Volgens haar was 1% baie lig vir hul lengte terwyl 5% net-net lig was vir hul lengte. Voorts was 2% erg ondergewig, terwyl 10% ondergewig was.
Eley sê aan die anderkant van die spektrum is bevind dat 11% van kinders oorgewig was en 5% vetsugtig. Volgens haar is hierdie twee groepe geklassifiseer deur die kind se gewig met sy of haar lengte te vergelyk.
Sy sê egter in hierdie gevalle was die kind swaarder vir hul lengte as wat as optimaal beskou word.
Volgens haar is ’n 26%-voorkoms van stunting/verdwerging onder kinders onder vyf jaar bespeur teenoor ’n nasionale gemiddelde van 27%.
Oor wat die hoof-bydraende faktore tot stunting/verdwerging is, sê Eley:
“Om nie ’n rekord te hê van die ontvangs van die mees onlangse dosis ontwurmingsmedikasie nie, het die risiko met ’n faktor van 1,61 verhoog.”
Volgens haar het ’n onvoldoende telling vir dieetdiversiteit die kans op verdwerging verdubbel. Eley sê om met ’n lae geboortegewig gebore te word, het ook die risiko van verdwerging – met ’n faktor van 2,42 – verhoog.
Volgens Eley gaan verdwerging nie net oor min eet nie, maar ook deur nie die regte kos te eet nie, aangesien ’n groeiende kind ’n verskeidenheid mikro- en makrovoedingstowwe in die regte hoeveelhede benodig om te floreer.
Oor wat ma’s kan doen om stunting/verdwerging te voorkom, sê Eley hulle moet onder meer verseker word dat kinders se ontwurmingskedules op datum is. Sy sê 30% van kinders ouer as een jaar wat by hierdie studie ingesluit was, het nie ’n rekord gehad dat hulle hul mees onlangse ontwurmingsmedikasie ontvang het nie.
Eley sê ouers moet ook kinders se toegang tot en opname van bekostigbare diverse kosse verbeter.




