Die Wolseley-polisie het in die feestyd op ’n oproep oor ’n vrou wat dood in haar huis in die Pine Valley- informele nedersetting lê, gereageer.
“Ons het die klag bygewoon en dit aanvanklik as ’n geregtelike doodsondersoek hanteer,” verduidelik ’n woordvoerder van die Wolseley-polisie.
Die woordvoerder het verder gesê die 25-jarige oorledene se vriend het op die toneel “ ’n bietjie ongemaklik gelyk”.
“Hy het daar rondgedwaal en ’n bietjie gekarring. Die liggaam is intussen van die toneel af verwyder.”
Die polisie is etlike ure later in kennis gestel dat die oorledene verwurg is.
“Ons was nog besig met die geregtelik doodsondersoek se papierwerk toe die forensiese patoloog ons laat weet die vrou is verwurg. Ons het die dossier daarna as ’n saak van moord hanteer,” verduidelik die woordvoerder.
Die 28-jarige verdagte het homself later aan die polisie gaan oorhandig.
“Die mannetjie wat daar rondgedwaal het, het later kom sê hy het die vrou vermoor. Hy is toe in hegtenis geneem.
“Dit is nog onduidelik wat daartoe gelei het dat die man sy vriendin verwurg het.”
Die verdagte sal op 24 Januarie in die hof verskyn.


