André Hanzen (regs) en Mafrika (van onbekend) het dit op hulself geneem om die vullis van Eddie Prinsrylaan te verwyder.Foto:

Credit: SYSTEM

’n Natuurliefhebber van Worcester het onlangs net keelvol geraak vir die gemors wat rondlê en besluit om self ’n plan te maak.

André Hanzen tel al sy lewe lank gemors op wanneer hy dit raaksien.

“Ek is van daai soort mense wat met ’n sakkie vullis van die see af wegloop. Ek is van mening dat mense agter hulself moet skoonmaak nadat hulle by ’n openbare plek was en nie verwag iemand anders moet dit doen nie.”

Onlangs was hy opnuut deur een van sy bure geïnspireer om vullis op te tel.

“Sy tuinman was besig om vullis in die pad op te tel, en toe besluit ek om iemand te gaan soek om my ook te help. Ek het toe vir Mafrika, wat my gereeld help, gekry. Dit was verbasend hoe baie rommel ons opgetel het en hoe baie mense hul rommel net by hul motors se vensters uitgooi.”

Die twee mans het altesaam 38 swartsakke vullis net in Eddie Prinsrylaan opgetel.

“So baie mense wat verby ons gery het, het die toeter geblaas en vir ons geglimlag en vir ons ’n thumbs up gewys,” verduidelik hy.

Die eienaar van ’n plaaslike sakeonderneming het by hulle stilgehou en hom aangemoedig om hierdie goeie daad op sosiale media te deel.

“Neil van Chrisma-slagtery het ’n draai gemaak en gesê dit moet gedeel word sodat mense bewus kan wees van al die gemors wat so rondlê. Dis toe dat ek dit op my Facebook-blad gedeel het. Ek is ook ’n lid van die Vryburgers-omgeemense van Worcester en hulle het ’n beroep gedoen om ’n nasionale skoonmaakdag van stapel te stuur.”

Lede van die Vryburgers, die Tafelronde, die Lions-klub asook die Rotariërs gaan Saterdag 5 Maart help vullis optel. “Ons sal van 08:00 tot 11:00 besig wees. Die doel is om te fokus op die verskeie ingange tot die dorp. Antoinette Steyn, die burgemeester, het ook ’n boodskap gestuur om te sê die BVM sal ons inisiatief ondersteun. So, om logistieke te beperk, gaan ons die vol vullissakke op die roetes van die vullisverwyderingsdienste se vragmotors los.”

Hanzen moedig ander inwoners van Worcester aan om net in die straat waar hulle woon, met ’n swartsak te stap en vullis op te tel.

“Ek wil mense aanmoedig om foto’s van hul goeie daad op Facebook te laai met #operasieskoonmaak om sodoende ander inwoners – nie net in Worcester nie, maar ook ander dorpe – te inspireer om dieselfde te doen.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article