Primrose se A-span en Worcester Villagers se B-span het die naweek in die Easter Clashes kragte gemeet. Villa het 20-13 gewen.Foto: Marchell Adams


Die wedstryd tussen Primrose se A-span en Worcester Villagers se B-span in die Essellenparkstadion die afgelope Saterdag (8 April) as deel van die gewilde Easter Clash, het groot belangstelling gelok en die duisende entoesiastiese rugbyondersteuners van genot laat juig.

Primrose, wat die wedstryd met verskeie aanslae begin het, het sommer vroeg-vroeg bloed getrek toe Mario Alberts (losskakel) met ’n netjiese strafskop geslaag het.

Villa het egter gou sy voete gevind en met verskeie aanslae op sy teenstanders se doellyn losgetrek. Een so ’n aanslag het tot ’n drie deur Valdimar Sampson (slot) gelei en Denashwill Kustoor (losskakel) het dit verdoel om Villa 7-3 te laat voorloop. Dié telling het tot 10-3 gegroei nadat Kustoor later met ’n strafskop geslaag het.

Kort hierna het Primrose die agterstand verklein toe Enrique Brits (buitesenter) ná skitterende samespel tussen die voor- en agterspelers gaan druk het. Alberts se doelskop was mis.

Kort voor halftyd het Juan Williams (Villa se buitesenter) ’n drie gedruk, wat die rustyd-telling op 15-8 te staan gebring het.

Ná rustyd het Villa verwoed begin en ná verskeie fases is Zaden Adams (flank) beloon met ’n drie, wat ook nie verdoel is nie. Primrose het weer gedruk maar dis nie verdoel nie en die eindtelling was 20-13 vir Villa nadat die wedstryd baie goed deur die nuweling-skeidsregter, Micheal Brooks, hanteer is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article