My verbintenis met Rochelle McDonald het begin gedurende haar opleiding by ALO (afdeling loopbaan-ontwikkeling by die Instituut vir Blindes, Worcester) in 2016.
Ek was in daardie stadium die koördineerder van interne opleiding by die Instituut vir Blindes (tans Innovation for the Blind) en het ook individuele bystand verleen met rekenaaropleiding vir studente by ALO. Dit was juis op versoek van Corné du Bois (hoof van ALO, wat intussen die Hein Wagner-akademie geword het) dat bystand aan Rochelle, ’n DoofBlinde vrou, verleen word. Rochelle kon op daardie tydstip – met ’n onvoldoende gehoorapparaat in haar regteroor en al – baie moeilik hoor. ’n Mens moes letterlik baie hard in haar regteroor praat! Sy het algehele gehoorverlies in haar linkeroor gehad.
Ons moes haar toe uit nood binne twee weke een-hand-vingerspelling leer sodat woorde of letters wat sy nie kon hoor nie, in haar hand met kontak-vingerspel gespel kon word.
Nadat sy ’n sterker gehoorapparaat vir haar regteroor verkry het, het haar algemene opleiding baie beter verloop. Intussen is die gehoor in haar linkeroor deur ’n kogleêre inplantaat aansienlik verbeter. Rochelle het haar N4-, N5- en N6-sertifikate suksesvol voltooi. Haar geesdrif om te leer en haar innemende persoonlikheid het nie ongesiens verbygegaan nie – inderdaad potensiaal wat ontgin moes word! Ons het haar in 2019 by DoofBlind SA Wes-Kaap-komitee se verkiesing betrek en sy is as lid en verteenwoordiger van Kaapstad Metro Noord verkies. Sy is by DoofBlind SA se vierjaarlikse nasionale verkiesingskonferensie in Maart 2020 in Johannesburg as nasionale voorsitter verkies. Dit was vir my ’n eer en voorreg om haar op hierdie platform as nasionale ondervoorsitter te ondersteun.
Rochelle het besonder vinnig in haar nuwe posisie gestyg en sy is op 1 Julie 2022 as DoofBlind SA se nuwe nasionale ontwikkelingskoördineerder in ons nasionale kantoor in Worcester aangestel.
Rochelle is met die aftrede van Philip Dobson, DoofBlind SA se nasionale direkteur, op 31 Maart 2023, deur DoofBlind SA se nasionale uitvoerende komitee aangestel om die bykomende take tydelik op haar te neem om ons nasionale kantoor te bestuur tesame met haar pligte as nasionale ontwikkelingskoördineerder.
Rochelle handhaaf en oortref verwagtinge met haar besonderse opgang by DoofBlind SA. Hierdie moedige, volledig DoofBlinde mens sien kans vir menige uitdaging en stuit nie voor klein hobbels in haar pad nie. Sy gebruik dit eerder baie suksesvol as ’n voetpad na ’n beter toekoms vir haarself en ander DoofBlinde mense.
Ons is baie trots op Rochelle en wens haar alle sterkte toe vir die toekoms. . Rochelle McDonald se verhaal is ’n sprekende voorbeeld dat gestremde mense met ondersteuning in leiding, kennis, insig, korrekte tegnologie, opleiding en met baie geduld enige geleentheid kan aangryp om ’n verskil te maak – ten goede.




