MONTAGU. – Die Bonnievale-polisiekantoor kry eersdaags ’n nuwe bevelvoerder.
Kapt. Konrad Matthysen, tans waarnemende hoof van sigbare polisiëring in Montagu, is op 1 September van adjudant-offisier tot die rang van kaptein bevorder.
Matthysen, ’n ervare polisiebeampte met 33 jaar diens, is met sy bevordering as die nuwe stasiebevelvoerder van die Bonnievale-polisiekantoor aangestel en sal sy pos op 1 Oktober daar opneem.
Matthysen is op 9 Mei 1990 in Erasmia, ’n voorstad van Centurion naby Pretoria, in die polisiediens aangestel.
Ná sy basiese opleiding het hy teruggekeer na Erasmia, waar hy by die speurafdeling begin werk het, en is later na sigbare polisiëring (uniformtak) oorgeplaas voordat hy op 1 September 1997 na Stilfontein in die Noordwes-provinsie verplaas is.
Matthysen het op 25 April 2000 in Montagu begin werk.
Voor sy huidige bevordering was Matthysen 23 jaar lank ’n adjudant-offisier en het in dié tydperk verskeie posisies by die Montagu-polisiekantoor beklee.
Hy was onder andere ’n skofbevelvoerder (2003-’10), hoof van die destydse misdaadvoorkomingseenheid (2014-’16), en het verskeie tydperke tussen 2016 en 2018 as die aangewese drankoffisier diens verrig.
Tans neem hy waar as hoof van sigbare polisiëring by dié kantoor.
Benewens sy basiese opleiding het Matthysen verskeie kursusse en werksessies, soos die basiese hantering van misdaadtonele, die nasionale slagofferbemagtigingsopleidings-program, gesinsgeweldwerksessie, gebruik van vuurwapens en gesinsgeweldleerprogram, om net ’n paar te noem, suksesvol voltooi.
Oor sy aanstelling as stasiebevelvoerder het Matthysen gesê: “My laaste bevordering was 23 jaar gelede. Natuurlik is ek bly oor hierdie bevordering, maar ek besef ook dis ’n groot verantwoordelikheid en die pos het gewis sy eie unieke uitdagings.
“Tog voel ek met die jare se ervaring wat ek agter die blad het, is ek toegerus vir die taak op hande en ek sien uit na die nuwe uitdaging.”
Sy visie vir sy nuwe pos is volgens Matthysen eintlik heel eenvoudig. “Die veiligheid van die Bonnievale-gemeenskap is prioriteit nommer een. Ek wil ’n veilige omgewing vir al die inwoners van die dorp skep deur gemeenskapspolisiëring so gou as moontlik op dreef te kry. En met die gemeenskap aan boord wil ek my toespits op die voorkoming van misdaad – in die dorp sowel as die landelike gebiede.”





