Huldeblyke stroom steeds in vir Lorna Reade, ’n groot gees in die kunsbedryf, wat Saterdag (31 Augustus) ná ’n lang siekte in haar huis in Worcester oorlede is.

“Dit is met groot hartseer dat ek kennis geneem het van die afsterwe van Lorna Reade.

“Ek en Lorna het baie nou in baie verskillende hoedanighede met vele projekte oor die jare saamgewerk, omdat ons dieselfde passies gedeel het – plaaslike bewaring, plaaslike erfenis, plaaslike kuns en plaaslike toerisme,” sê dr. Julian Kritzinger, die burgemeesters­komiteelid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling, toerisme, kuns en kultuur by die Breedevallei-munisipaliteit (BVM).

Volgens Kritzinger bring Reade se afsterwe ’n einde aan ’n baie groot era in die bestaan van die Worcester-kunsvereniging.

Reade is vroeg in 2001, kort ná die afsterwe van Helen Walters, die vereniging se gewese voorsitter, wat op 1 Desember 2000 dood is, as voorsitter van Worcester se Kunsvereniging gekies. Sy het tot haar dood in dié posisie gedien.

Volgens Kritzinger het Reade die voortou geneem met die totstandkoming van die Worcester Erfenis- en Bewaringskomitee. Sy het ook gehelp om dié liggaam te vestig en by Erfenis Wes-Kaap geregistreer te kry.

“In hierdie hoedanigheid het Lorna ook gereeld haar stem laat hoor as dit by die bewaring van historiese huise en persele kom.”

Voorts was Reade ook die kunstenaar wat die standbeeld van Nelson Mandela in die Tuin van Herinneringe gebeeldhou het. Die beeld is op 18 Julie 2012, op Mandeladag, vir Mandela se 94ste verjaardag onthul. Dit was die vyfde Mandela-standbeeld wat onthul is en die laaste standbeeld waarvan Mandela bewus was voordat hy ’n jaar later op 5 Desember 2013 oorlede is.

Volgens Kritzinger het Reade saam met haar man, David, The Barn in Kerkstraat op die been gebring. Dit is een van Worcester se ‘moet-gaan-sien’-ervarings.

“Die sukses van The Barn is die interaktiewe ruimte wat geskep is waar kunsliefhebbers self kan kom kuns skep en deel van die skeppingsproses van kuns, hetsy glasbaas, skilder of teken, kan word.”

Een van Lorna se laaste projekte was haar besondere ‘Ashes in Glass’-produkte waar sy die as van afgestorwenes geneem en in glasvoorwerpe verewig het.

Haar kuns is in vele galerye oor die wêreld heen ten toon gestel en verkoop, onder meer in Parys, Londen, Ontario, New York en Kaapstad. Volgens Kritzinger sal dit “baie onmoontlik” wees om Lorna se plek in die plaaslike kunswêreld en kultuurlewe in Worcester vol te staan.

Antoinette Steyn, die uitvoerende burgemeester van die BVM, sê in ’n huldeblyk: “Jou stem groet die Breedevallei, Lorna, maar jou goedheid sal almal onthou.

“Dankie vir alles wat jy in soveel mense se lewe beteken het. Dankie vir jou sagte hart teenoor mense. Dankie, Lorna, vir alles; jou vriendskap met ons gewone mense. Ons groet met ’n seer hart, maar weet jy is veilig.”

Lorna was ook oudpresident van Worcester Rotariërs.

’n Facebook-inskrywing deur die klub lui: “Lorna was ’n besonderse Rotariër en ’n ware steunpilaar vir die Worcester-gemeenskap. Haar onwrikbare toewyding en liefde vir kinders en jong volwassenes staan as ’n kragtige getuienis van haar omgee-aard. Lorna se nalatenskap van diens, deernis en leierskap sal ons vir altyd inspireer.”

Hilderine Schröder, ’n voormalige joernalis vir Standard, het vroeër in ’n artikel oor Reade geskryf: “Lorna Reade dra baie hoede – nie net dit nie; sy dra hulle goed, met grasie, gemak en met ’n liberale stukkie humor.

“Ondanks die feit dat sy ’n wêreldwye aanhang het vir die kuns wat uit haar vingerpunte vloei, is Lorna se voete stewig op Afrika-grond geplant.”

Lorna word deur drie kinders oorleef.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article