Cullen Benjamin gaan oor vir ’n drie vir sy span, Young Hamiltons.Foto:


Young Hamiltons moes Saterdag (15 Junie) durf en daad bymekaar voeg om ’n begeesterde Bonnievale United op Happy Valley te klop.

’n Vroeë uitdaging is aan Hammies gerig toe Whalied Heyns (agsteman) net ná die afskop waarin hy volgens die skeidsregter die skrumskakel van United met ’n gevaarlike hoogvat gelak het, met ’n rooikaart gestraf is en die speler weens die erns van sy besering ’n bloukaart ontvang het.

Dit het die wind heeltemal uit Hammies se seile geruk en sy momentum erg versteur.

Hammies het hom egter mooi reggeruk en vinnig ’n paar verstellings op die veld gemaak om by die omstandighede aan te pas. Die agterlyn is so bietjie verdun met een agterspeler wat om die beurt voorlangs met skrumtyd gaan help het.

Young Hamiltons het geensins teruggestaan vir die swaarder pak van Bonnievale nie en ook nie van sy eie speelstyl afgewyk nie.

United is telkemale met skitterende rolmaalbewegings in sy kwartgebied vasgepen, wat die gevaarlike agterlyn van Hammies meer slaankrag gegee het – soveel so dat Hammies al teen rustyd vyf drieë ingeryg het, waarvan die haker, Cameron Visagie, eerste oor die doellyn is met die skrumskakel Yushwin Hattingh wat kort daarna steelkant-om gebreek en oorgegaan het. Die senter Ussiel Langeveldt het dit verdoel om Hammies met 12-6 te laat voorloop nadat United vir ’n rukkie 6-5 voor was danksy twee suksesvolle strafskoppe.

’n Blitzkrieg van drieë binne die bestek van vyf minute het gevolg toe die linkervleuel, Claudio Matolla, drie keer kort na mekaar oor die Bonnievale-doellyn is met Langeveldt wat twee daarvan verdoel het. Hammies was toe 31-6 voor, wat ook die rustyd-telling was.

Bonnievale is in die tweede helfte nog twee keer oor die doellyn vir sy 18 punte terwyl die reserwe-stut Cullen Benjamin vir Hammies vir die 36-18-eindtelling gedruk het.

Hammies B het 20-6 gewen terwyl Hammies C ’n wegholoorwin­ning (50-6) behaal het. Hammies speel Saterdag tuis teen Swellendam. Kaartjies is by Spar en Tops beskikbaar tot Saterdag om 15:45.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article