Sjef Mynhardt Joubert se ikoniese vrugtefeeskoek sal hierdie jaar weer die vreugdevolle prentjie van Kersfees inkleur wanneer dit aan menige Kerstafel gesny en gedeel word.
Met ’n vrugtekoek wat meer soos ’n juweelkissie van kersies en neute lyk, is dit sedert 2016 Mynhardt se begeerte om die boodskap van mededeelsaamheid in die Kerstyd te deel. Sy vrugtekoek is deel van sy jaarlikse welsynprojek – nou in sy sesde jaar – waar almal na ’n koek enig in sy soort uitsien en weet ’n groot deel van die opbrengs word aan behoeftige organisasies geskenk.
Mynhardt, sy span en die pragtige tradisie wat hulle laat voortleef, het nou ’n tradisie in Suid-Afrikaanse huishoudings geword en bied vanjaar nog meer rede tot feesviering.
Die 2022-feestyd kan sy arms weer wawyd oopgooi vir vriende en familie om sonder maskers brood te breek. Dis ’n jaareinde wat voorwaar ’n nuwe begin ná die pandemie simboliseer. Geliefdes kan mekaar weer in die oë kyk, om die feestafel met liefde gelaai, en dan weer die geliefde feeskoek laat koning kraai.
Uit die hart van die Vrystaat
Mynhardt se vrugtekoekresep reis al die pad saam met hom van die Vrystaat af, waar hy grootgeword het. Nes dit harte regdeur Suid-Afrika warm maak, trek die storie van moederlike liefde jou nog nader.
Mynhardt vertel: “My ma en my ouma het my aangemoedig om kreatief in die kombuis te wees en ek hou vas aan daardie vryheid. ’n Vrugtefeeskoek verteenwoordig familie, en wanneer die bakkery jou huis met daardie soet-warm aromas vul, nooi dit die sentiment van Kerstyd in jou kombuis in – die hunkering om tyd saam met geliefdes deur te bring.”
’n Kersverhaal
Vroeër vanjaar het Mynhardt se bakker baie siek geword – die einste staatmaker wat hom help om die vrugtekoeke betyds vir Kersfees gereed te kry. Mynhardt en sy span moes inspring, maar gelukkig het sy regterhand, Jesmine Fransman (alombekend as “Sponsie”), hom gerusgestel dat sy van iemand weet wat as bakker kan instaan.
“En hier stap ’n vrou die kombuis binne en laat waai!” vertel Mynhardt.
“Nicoline Williams se entoesiasme was tasbaar. Sy het boonop ’n mooi blou resepteboek saamgebring, waarin sy al haar gunstelingresepte met die hand skryf. En kan jy glo! Daar pryk die einste resep van my vrugtekoek. Hoe wonderlik om die volle sirkel van welwillendheid te sien gebeur!” sê Mynhardt, absoluut verheug.
Nicoline het die resep ontdek toe sy by familie in Port Nolloth, ’n klein dorpie in Namakwaland, gaan kuier het. Sy het deur die tydskrif KUIER geblaai, die storie oor Mynhardt se vrugtefeeskoek raakgelees en dadelik die resep in haar blou boek oorgeskryf. “En nou staan sy hier in my kombuis en bak dieselfde koek. Ek voel so geseënd!”
’n Helpende hand
Die begunstigdes van Mynhardt se 2022 Vrugtefeeskoek-welsynprojek sluit Helpende Handjies, ’n klein organisasie sonder winsoogmerk, in.
Dié organisasie word deur Wilma Christoffels in Montagu bestuur, waar sy daagliks 30 kindertjies in haar gemeenskap versorg.
Sy maak staat op skenkings waaruit hul etes en skryfbehoeftes vir skool gekoop word – iets wat hulle andersins nie kan bekostig nie.
Die ander organisasie waaraan geld geskenk sal word, is Butterfly House, ’n Paarlse gemeenskapshulpbron, wat na gemeenskappe uitreik om positiewe verandering te help fasiliteer. Meer as 300 kinders is geregistreer om aan hul programme deel te neem. Etes en skryfgoed word verskaf, asook stortfasiliteite en ’n veilige omgewing om in huiswerk te doen of te ontspan. Butterfly House is gestig om die fasiliteite van die Drakenstein- palliatiewe versorgingsdiens (DPH) uit te brei.
Groothartige borge
Sjef Mynhardt bak vanjaar weer vir hierdie projek met fantastiese borge wat jaarliks bydraes lewer.
Chef Mynhardt se vrugtefeeskoeke is beskikbaar teen R500 per koek. Plaas jou bestelling betyds vir die feestyd per e-pos by cake@mynhardt.co.za. Volg ook sy Feeskoek-welsynveldtog op Facebook en Instagram en kry nog meer inspirasie vir jou eie feestafel!





