Aan die matriekklas van 2022:
Hiermee wil ek julle met jul eindeksamen alle sterkte toewens. Ek vertrou dat ’n ieder en ’n elk van julle net jul beste sal gee. Dit is uiteraard die meeste wat ’n mens in hierdie tyd kan doen.
Maar, ek wil ook ’n woordjie met die matriekklas se ouers deel: Ek weet hierdie is net so ’n stresvolle tyd vir julle – selfs nog méér stresvol. Dit is egter ook belangrik om jou grense as ouer te onthou.
Dit baat nie jy plaas ongelooflike druk op jou kind om te slaag of net A-simbole te kry nie. Jy sal nie dié soort druk op hulle plaas om hul ouers tevrede te stel nie.
Nie almal leer dieselfde nie; nie almal verstaan dinge dieselfde nie.
Party kinders hou doodeenvoudig net nie van skool nie, maar tog het hulle oor die jare heen hul beste vir jou en hulself en hul onderwysers gegee. Al wat hulle in hierdie tyd verlang en broodnodig het, is jou ondersteuning en woorde van motivering en vertroosting.
Laastens wil ek ook net noem – al slaag jy met toppunte of gemiddelde punte, of al slaag jy nie, jy het jou beste gegee. En as jy druip, beteken dit nie jy is dom nie, nog minder dat jy lui is. Jy het gedoen wat jy kon en dis nou tyd vir jou om op jou paadjie vorentoe te besluit.
Dit is nie ’n skande om die jaar te herhaal nie. Dit is ook nie ’n skande om te kies om liewer te gaan werk nie.
Almal se lewenspaadjie is anders uitgesit. Dis jou keuse hoe jy jou sukses gaan behaal.




