Hy was vir 25 jaar verslaaf aan dwelms. Sy verslawing het sy ma so geknou dat sy ’n paar beroertes gehad het en uiteindelik bedlêend was.
Maar vandag is die 44-jarige Anwar Solomons van Avianpark in Worcester vyf-en ’n half jaar dwelmvry. Hy is weer getroud, besit ’n vierslaapkamerhuis en het ’n vaste werk.
Hy is ook betrokke by die geloofsgebaseerde organisasie HOPE, wie se uitsluitlike doel is om uit te reik na diegene wat aan alkohol en/of dwelms verslaaf is.
Solomons – die middelste van drie kinders – sê hy het in ’n gelukkige huis in Hexpark grootgeword.
Volgens hom het sy pa sy eie sakeonderneming gehad en het hy as kind alles gehad wat sy hart begeer het.
Hy sê sy ouers is geskei toe hy 16 jaar oud was. Volgens hom het die egskeiding hom hard getref.
“Omdat ek daardie tyd ’n vaderfiguur gesoek het, het ek ’n ouer vriend ontmoet wat ek as ’n vader gesien het, maar ongelukkig was hy op dwelms. Hy was my rolmodel en ek wou alles doen wat hy doen.”
Volgens Solomons het di “vaderfiguur” hom aan dwelms blootgestel.
Hy sê die man het geweet hy is bereid om enigiets te doen, soos om diefstal te pleeg, mense te beroof en aan te rand.
Volgens Solomons het hy aanvanklik eers gerook, toe volg die dagga, Mandrax en tik.
Solomons sê sodra hy klaar gerook het – kort nadat hy by die skool opgedaag het – het hulle oor die skool se heining gespring en by huise gaan inbreek. Hy is in gr. 10 uit die skool.
Solomons sê omdat hy vriende in Riverview gehad het, was hy weinig tuis.
Toe hy 20 jaar oud was, het hy by bende-aktiwiteite betrokke geraak.
“Ons het nie ge-mind om jou met die mes te steek nie. Daai is die lewe wat ek gelei het toe ek lid van ’n bende geword het.”
Solomons sê toe hy 30 jaar oud was, het hy besluit om nie meer so aktief in die bendes te wees nie. Dit het gekom nadat ’n vriend van hom doodgesteek is. Hy het toe teruggetrek huis toe.
Volgens hom het hy die huisraad begin steel. Hy sê sy ma het onder meer matriekafskeidrokke gemaak en klere van mense verstel. Volgens hom het hy dié klere – waarvan baie nog nuut was – asook die materiaal gesteel en dit vir dwelmgeld verkoop.
Hy sê sy broer en suster se besittings het ook onder hom deurgeloop.
“My ma het in daardie stadium alleen in die huis gewerk. Ek het haar geld begin vat. Dit was alles moeilik vir my ma – sy kon later nie meer nie.”
Volgens Solomons het hy ’n skrikbewind in sy ouerhuis gevoer. “Ek sou goed in die huis stukkend slaan of gooi om geld te kry.”
Hy sê sy gedrag het sy ma se ondergang beteken. “Tik maak jou mos wreed; jy worry nie wat jy aan ander mense doen nie.”
Volgens Solomons het sy gedrag sy ma twee beroertes besorg. Hy sê toe sy ma die derde beroerte kry, was hy reeds vier jaar dwelmvry.
Volgens hom is hy vir die eerste keer na ’n rehabilitasiesentrum vir alkohol- en dwelmverslawing – bloot om sy ouers tevrede te stel.
Solomons sê hy was in altesame ses rehabilitasiesentrums. Hy sê telkens sodra hy ontslaan is, het hy dieselfde dag nog weer begin rook. Hy meen dit is omdat hy nie sy vriendekring verander het nie.
Volgens Solomons het sy paadjie met HOPE die eerste keer gekruis toe Roderick Boer – een van die stigterslede van HOPE – na iemand wat naby hom (Solomons) gewoon het, uitgereik het.
Solomons sê hy het aan Boer genoem hy (Solomons) het ook hulp nodig.
Volgens Solomons het hy ’n dogter van 20 jaar oud met wie hy – as gevolg van sy dwelmmisbruik – glad nie ’n verhouding het nie. Volgens hom wil hy baie graag nader aan sy dogter lewe.
“Daai lewe wat ek gelewe het, was nie die moeite werd nie.
“Daar is mense wat vir jou wil hulp aanbied. Die moment wat jy nog in dwelms is, lyk dit almal is gekant teen jou, maar mense is nie gekant teen jou nie, hulle is gekant teen die dinge wat jy doen.”
Boer kan gebel word by 063 136 7877.





