WORCESTER – Oral waar sy gegaan het, het die doodsengel haar soos ’n skaduwee gevolg. Toe is sy deur die dood in die gesig gestaar toe limfoomkanker by haar gediagnoseer is.
Hoewel die pad wat Eunice Meyers gestap het, baie moeilik was, het haar geloof in God nie vir een oomblik gewankel nie. Vandag is dié 59-jarige van Johnsonspark in Worcester kankervry en ’n inspirasie vir baie mense.
Sy het onlangs ’n boek uitgegee getiteld Uit die kake van die dood waarin sy van haar kankerstryd vertel.
Sy was Woensdag (7 Augustus) een van die sprekers by ’n Vrouemaandviering by die Breedevallei-vereniging vir Mense met Gestremdhede. Die tema was “Jou waarde as Vrou”.
Limfoomkanker fase vier plus is sowat vyf jaar gelede by Meyers gediagnoseer.
Op ’n dag het sy net skielik begin siek raak en toe is diabetes gediagnoseer.
Volgens haar het dit gelyk of die medikasie nie werk nie, want haar suikervlakke het hoog gebly.
Volgens haar het sy kliere wat vinnig begin swel het, agter haar ore ontwikkel. Die dokter het verduidelik daar is ’n moontlikheid dat die kliere kwaadaardig is.
Volgens Meyers is sy later in die hospitaal opgeneem nadat sy dubbele longontsteking opgedoen het. Sy het baie vog rondom haar hart en longe gehad. “Ek het al sieker geraak. Ek was kortasem en my eetlus en spraak het verdwyn. Ek het uitgeteer en was die meeste van die tyd bedlêend. Wanneer mense na my gekyk het, kon ek die skok op hul gesig sien.”
Volgens Meyers het sy op Goeie Vrydag gevoel sy is op haar laaste.
“Al was my liggaam baie swak, het ek nietemin besluit om kerk toe te gaan. Dit het my seker ’n uur geneem om aan te trek, want ek het aanmekaar aan die slaap geraak. In daardie stadium het dit vir my gevoel ek gaan nie die aand haal nie.
“Ons kerk het ’n houtkruis. Toe ek die kerk instap, het ek daarna gesmag om net aan die kruis te raak. Ek het so siek gevoel en dit was my laaste hoop.
“Ek het soos ’n dronk mens daai paadjie deur die kerk na die kruis toe gestap.
“Nadat ek daaraan geraak het, het ek ’n bietjie beter gevoel.
“Hulle moes my toe weer teruglei tot by die naaste stoel. Na afloop van die diens moes ek uit die kerk gedra word. Ek het in ’n baie kort tyd baie agteruitgegaan.”
Volgens Meyers is sy kort hierna in die Mediclinic se waaksaal opgeneem. ’n Paar dae later is sy meegedeel sy het fase vier plus limfoomkanker.
“Toe ek daardie woorde hoor, het ek net ’n rustigheid oor my gevoel. Ek was kalm. Ek het net aanhoudend vir myself gesê ‘my lewe is in die Hande van die Here’.”
Sy sê ses maande nadat sy klaar was met chemoterapie, was sy kankervry. As deel van die kankerbehandeling het ’n beenmurg-oorplanting gevolg.
“Ek het ’n doods-moegheid gevoel en wou net die heeltyd slaap. Ek het my begin voorberei vir die dood.”
Volgens Meyers het sy opnuut krag gekry toe ’n engel haar in ’n droom besoek en aan haar noem sy gaan nie sterf nie omdat haar man en die gemeenskap haar nog nodig het.
Meyers sê sy was skaars ontslaan toe moes sy weer hospitaal toe nadat ’n bloedklont in ’n hoofslagaar in haar nek ontdek is en geskiet het.
“Ek wil net vir mense sê die Here is die God wat nog gesond maak. Ek is ’n wonderwerk van God.”
Diegene wat belangstel in Meyers se boek, kan haar by 081 757 5785 bel.





