Een van Worcester se legendariese inwoners as dit by Kersfeeskore kom, die 70-jarige Charles Africa Fisher, is verlede Woensdag ná ’n massiewe hartaanval by sy huis oorlede kort nadat hy sy geliefde saxofoon gereed gekry het vir Sondag (22 Oktober) se sang- en musiekfees in die stadsaal.
Charles was die tweede jongste van ’n kroos van ses van die bekende onderwyser en musiekman Appie Fisher en sy gade, Hendriena, née Boer.
Hy het sy laerskoolopleiding in Lambertsbaai voltooi, waar sy pa skoolgehou het, en is daarna na Luckhoff Sekondêr in Stellenbosch waar hy matrikuleer het. Hy het hierna by Korrektiewe Dienste se orkes aangesluit, waar hy ’n besonderse bydrae as lid gelewer het.
Hierna het hy hom as sweiser bekwaam en was onder andere deel van die eerste groep sweisers wat verantwoordelik was vir die uitbreiding en herstrukturering van die nuwe kaai in Saldanha.
Hy het later na Worcester verhuis, by Audera, Boland Ingenieurs gewerk en later by Prima Klipbrekers. Hy het vir jare sweiswerk aan en herstelwerk van vragmotors verantwoordelik was. Hy was later in beheer van die sweiswerkswinkel.
Hy is in 1974 met sy gade, Charlotte Jordaan van Kraaifontein, getroud en hulle het vier kinders gehad – Abigail, Badruneesa, Charlrica en Floris.
Charles was die trotse oupa van 11 kleinkinders en twee agterkleinkinders. Hy was gek na sy kleinkinders en kon ure saam met hulle deurbring, veral om te hulle met musiek te help.
Charles word ook oorleef deur sy enigste twee susters, Spacilda en Sally.
Musiek was Charles se ander groot liefde en hy het hom behoorlik uitgeleef met sy saxofoon as lid van The Fleet, waarvan hy vir meer as 50 jaar ’n geëerde lid was – tereg ook, want sy oorlede pa en broers was almal op die een of ander tyd in beheer van die afrigtingspan van The Fleet.
Volgens sy kinders kon hulle nie vir ’n meer lojale en toegewyde pa en oupa gevra het nie en hy was met sy hulpvaardigheid later bekend as die nutsman van die buurt waar hy gewoon het.
Charles word Saterdag 28 Oktober om 09:00 vanuit die VGK Worcester ter ruste gelê. Besigtiging sal reeds vanaf 08:30 geskied en die oorskot sal reeds vanaf 07:30, begelei deur verskeie Kersfeeskore, van sy huis in Crotzstraat 124 na die kerk vertrek.





