Enrico Claassen
Diegene met ’n voorliefde vir musiekblyspele kan hulle regmaak vir een uit die boonste rakke wat binnekort in die Kleinteater in Worcester op die planke gebring gaan word.
Roodewal, Avianpark, Victoriapark en Johnsonspark – almal woonbuurte in Worcester – gaan skitter in dié musiekblyspel omdat al die akteurs van dié buurte is.
Toe die akteur Clint Aplon (31), ’n boorling van Worcester, die Afrikaanse televisiesepie 7de Laan vir eers vaarwel geroep het, het hy beslis nie op sy louere gaan rus nie.
Hy het onmiddellik weer aan die werk gespring en werk tans aan sy heel eerste musiek-blyspel getiteld Van ’n klein dorp, wat aanstaande maand opgevoer word.
Clint het Van ’n klein dorp, wat sowat 75 tot 80 minute sal duur, self geskryf. Hy is ook die regisseur. Boonop het hy al die liedjies in die musiek-blyspel self geskryf, buiten een wat deur sy kollega Gaywin Abrahams geskryf is.
Met Standard se besoek vroeër die week aan Clint by sy ouerhuis in Worcester, sê hy met die intrapslag dat daar geen verband is tussen die musiekblyspel en sy musiek-album – ook getiteld Van ’n klein dorp – wat hy onlangs uitgereik het nie. Hy sê die titels is toevallig dieselfde.
Volgens Clint is die musiekblyspel Van ’n klein dorp deur Worcester geïnspireer.
Hy sê dié liefdesverhaal handel oor twee jong mense, die 19-jarige Mandy en 21-jarige Moegamad, ’n motorwerktuigkundige, wat nou al geruime tyd vir mekaar ogies maak.
Die feit dat Moegamad ’n motor-renjaer is en Mandy uit ’n konserwatiewe huishouding kom, plaas egter ’n demper op hul verhouding.
Volgens Clint word aspekte soos groepsdruk, ambisie, geloof en hoop ook in die verhaal aangespreek.
Hy sê Van ’n klein dorp sorg vir beide komiese én hartseer-oomblikke.
Volgens Clint is die storie “baie real” en baie mense sal hulle daarmee kan vereenselwig. Hy sê dis glad nie hoogdrawend nie.
“Almal kan ietsie daaruit neem. Mense moet kom as hulle weer gemotiveerd wil wees en hul ambisies wil laat opvlam.”
Clint het voorts groot lof vir sy jong akteurs wat hy sê hy self gekies het. Volgens hom het hy onmiddellik potensiaal in elkeen van hulle gesien.
Hy sê hoewel dié jong manne en vroue nog nie ervaring in die professionele vermaaklikheidsbedryf het nie, is hulle nietemin baie talentvol.
Clint sê die musiekblyspel gaan dié jong akteurs ’n platform bied om hul drama-talente ten toon te stel, met die hoop dat groot televisie- en rolprentbase hulle hier sal raaksien.
Hy sê die musiekblyspel gaan mense opnuut weer laat trots voel oor Worcester.
Volgens hom is dit plaaslike mense wat iets ongeloofliks doen.
Clint is tans ook betrokke by KykNet se Afrikaanse televisie-sepie Arendsvlei.
“Ek het baie geleer van groot regisseurs by 7de Laan en Arendsvlei en het besluit om daardie kennis te kom deel hier in Worcester en iets te skep vir ons plaaslike mense sodat hulle ook kan sê ‘dis ons eie mense’, ‘dis ons eie stories’.”
Clint sê om ’n musiekblyspel op die planke te bring is nie ’n goedkoop storie nie.
Volgens hom werk hulle sonder ’n begroting. Hy sê die akteurs word ook nie betaal nie.
Clint sê hoewel ’n paar goedgesinde en barmhartige samaritane reeds na vore gekom en ’n helpende hand na hulle gereik het, sukkel hulle nog finansieel. Volgens hom dok hy self op vir lokale wat gehuur moet word vir repetisies.
Ten spyte van hierdie struikelblokke glo hy dat “the show must go on”.
Van ’n klein dorp word op 15 Julie en 22 Julie op die planke gebring.
Kaartjies kos R150 per persoon. Vir besprekings skakel 082 683 1596.


