Saterdag 18 Mei is internasionale Museumdag en die plaaslike museum neem aan die wêreldwye vierings deel.
Daar sal Vrydagoggend ’n praatjie by die museum wees ter viering van dié dag. Vanjaar se tema is “Museums vir onderrig en navorsing”. Vrydag se vierings is deur die organisasie Vriende van die Museum gereël.
“Vanjaar fokus ons op die temas van 2024 se program, naamlik onderwys en navorsing. Die museum se onderwyser, Brenda Matsau, sal oor die opvoedingsprogramme by die museum praat. Dan sal Christopher Cox ook praat oor die projek waaraan hy werk. Hy doen navorsing oor die rol van sekere skoolhoofde in hul gemeenskappe. Dit kan moontlik in ’n latere stadium lei tot ’n uitstalling by die museum,” sê Emile Badenhorst, die bestuurder van die museum.
In ’n mediaverklaring word Museumdag verduidelik.
“Die doel van internasionale Museumdag is om bewustheid te kweek oor die feit dat museums ’n belangrike manier is van kulturele uitruiling, verryking van kulture en ontwikkeling van wedersydse begrip, samewerking en vrede tussen mense.”
Vanjaar se tema beklemtoon die deurslaggewende rol van kulturele instellings in die verskaffing van ’n holistiese opvoedkundige ervaring.
“Hierdie dag dring aan op ’n meer bewuste, volhoubare en inklusiewe wêreld. Museums dien as dinamiese opvoedkundige spilpunte, wat nuuskierigheid, kreatiwiteit en kritiese denke bevorder. Vanjaar gee ons erkenning aan hul bydrae tot navorsing, wat ’n platform bied vir eksplorasie en die verspreiding van nuwe idees. Van kuns en geskiedenis tot wetenskap en tegnologie, museums is noodsaaklike ruimtes waar onderwys en navorsing saamvloei om ons begrip van die wêreld te vorm,” lui die verklaring.
. Vrydag se praatjie vind van 09:00 tot 11:00 by die museum plaas. Verversings sal verskaf word.



