Indien die Tiger Lillies Dream Catchers-sport-ondersteuningsgroep van Avianpark in Worcester sy sin kry, sal Worcester Museum in die afsienbare toekoms nog meer gestremd-vriendelik ingerig word.
Tiger Lillies Dream Catchers is ’n ondersteuningsgroep vir mense met gestremdhede en hulpbehoewende pensioentrekkers.
Die groep se stigter, Emsha Bailey (57) van Avianpark, is self ’n parapleeg. Albei haar bene is in 2020 afgesit.
Bailey dien in die bestuur van Worcester Museum en is ook lid van die groep Vriende van die museum.
Volgens haar het die idee om die ondersteuningsgroep te vorm, sowat ’n jaar gelede by haar posgevat toe sy sien hoe gestremdes en hulpbehoewende pensioenarisse in afsondering leef omdat hulle onder meer selfbewus is oor hul gestremdheid en bang is die gemeenskap gaan hulle “snaaks aankyk”.
Sy sê sy het hulle genader en begin bemoedig deur hulle daaraan te herinner hul gestremdheid beteken nie die einde van die wêreld vir hulle nie.
Hulle het later deel gevorm van haar ondersteuningsgroep.
Bailey sê die uitsluitlike doel van die groep is om onder meer ondersteuning te bied en weer selfvertroue op te bou.
Volgens Bailey het sy oor die jare heen agtergekom baie meer kan nog gedoen word om Worcester Museum nog meer gestremd-vriendelik te maak. Sy het egter nie met die arms gevou gesit nie.
Die eerste fase om Worcester Museum meer gestremd-vriendelik te maak, het op Woensdag 13 Maart begin toe sowat 30 gestremdes en pensioentrekkers van Riverview en Avianpark die museum besoek het.
Kort ná die groep se aankoms by die museum het hulle ’n gedaanteverwisseling ondergaan toe hulle na 100 jaar terug in die geskiedenis meegevoer is deur hulself uit te vat in uitrustings wat uit dié tydperk dateer.
Die groep het hierna aan die werk gespring en plekke by die museum begin identifiseer wat nie gestremd-vriendelik is nie.
Bailey het aan Standard & Breederivier Gazette genoem dat onder meer die plaasroete by die museum moeilik begaanbaar is vir gestremdes.
Volgens haar loop gestremdes ook die gevaar om oor oer-oue boomwortels wat bo die grond uitloop, te struikel en te val.
Sy meen ook daar is nie genoeg sitplek vir gestremdes om te rus nie. Die groep het foto’s geneem van die plekke wat ontoeganklik is en waar veranderings aangebring moet word.
Bailey sê as deel van fase 2 gaan die groep met die museum-bestuur vergader om hulle in te lig van al die tekortkominge en hoe dit meer gestremd-vriendelik aangepas kan word.
“Hierna gaan ons mense kry wat ons kan raad gee oor hoe ons dit stelselmatig kan doen.”
Sy sê daar behoort meer beweegruimte vir gestremdes – dowes en blindes inkluis – te wees.
Bailey meen indien hulle die groenlig kry, sal meer gestremdes toegang hê tot die besienswaardighede wat Worcester Museum bied.


