Die Vriende van die Museum is, van links, Arnold Smith, André Galant, Naomi Theron, Wilma Barry, Charles Beukes en Errol Jansen. Voor sit Emsha Bailey.


Die organisasie Vriende van die Museum in Worcester het sy jaarvergadering Vrydag (2 Augustus) gehou en sy toekomsplanne bekendgemaak.

Die museum se bestuurder, Emile Badenhorst, het die verrigtinge begin deur te verduidelik dat die museum ’n baken van goeie nuus is. “Die gees wat hier heers wanneer jy instap, is een van betrokkenheid en een van vriende. Ons strewe daarna om deur die geslagte ’n good news champion te bly.”

Charles Beukes, die voorsitter van die Vriende van die Museum, het die idee verder uitgebrei deur te sê die museum is ’n plek van nalatenskap vir mense en vir die gemeenskap van amper vergete generasies. “Danksy hierdie legacy is ’n groot verskil vir ons kinders en kleinkinders gemaak. Maar om op die legacy voort te bou, het ons julle hulp nodig in die vorm van vrywilligers of selfs as lede van die Vriende van die Museum. Ons moet nie die verlede vergeet nie; ons moet die goeie daarvan in die toekoms verder bou.”

Hy nooi ook instansies en organisasie uit om hul geskiedenis en komvandaan te deel.

“Ons nooi mense om hul stories te kom vertel sodat ons dit kan opneem, soos byvoorbeeld sportklubs en Kersfeeskore en ander organisasies. Ons nooi hulle om hul geskiedenis te kom deel.”

Daar is ook weer verwys na die feit dat Worcester die Omgee-hoofstad van Suid-Afrika is, en dus word beplan om die voetpaadjie na en om die museumgebou te restoureer.

“Omdat hier so baie mense met gestremdhede in ons dorp is, het dit ons laat kyk na die toeganklikheid van die museum. Die paadjie is veronderstel om reeds buite die muur te begin, en dit moet ’n sekere wydte wees,” het Errol Jansen, die sekretaris van die Vriende van die Museum, verduidelik.

Die organisasie se tesourier, Naomi Theron, het gedeel hulle het ’n skenking van R10 000 ontvang wat hulle gaan aanwend om hierdie projek aan die gang te kry.

Sy het ook verduidelik dat hulle die wiel wat destyds gebruik is om koring te maal, tans herstel.

Die Vriende nooi enigeen wat daarin belangstel om deel van die Die Vriende van die Museum in Worcester te wees, om aan te sluit.

. Kontak Charles Beukes by 079 837 2540 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article