Die Worcester-museum, voorheen bekend as die Kleinplasie-lewende opelug-museum, begin sommer reeds vroeg met Erfenisdagvierings.
Die publiek kan Vrydag 22 September reeds kom kyk hoe lyk die personeel wanneer hulle almal volgens hul eie kulture gaan aantrek.
Suid-Afrika is immers een van die lande met ’n baie ryk kulturele versameling mense. ’n Verskeidenheid van die kulture is ook in hierdie vallei.
Die Worcester-museumvriende se uitgangspunt en leuse is juis: Gesamentlik, Erfenis, Vandag en Môre.
Natasha Joubert, die nuutste Mej. Suid-Afrika, het baie waar geantwoord toe sy gedurende die kompetisie gevra is oor watter aspekte van die Suid-Afrikaanse kultuur meer aandag moet kry. Haar antwoord was: “Ons krag lê in ons diversiteit.”
Die publiek kan gerus die museum op Erfenisdag, Maandag 25 September, besoek wanneer verskeie aktiwiteite aangebied word.
Erfenis-kos van ’n verskeidenheid kulture sal ook by die museumrestaurant voorgesit word.
Voorafbesprekings sal waardeer word.
Soos Wilma Barry, ook museumvriend en eienaar van die restaurant en winkel, noem: “Ek maak kos vir alle kulture, outyds en byderwets.”
Die museumvriende nooi almal wat in kultuur belangstel om Vrydag en Maandag te kom kuier. Skakel 023 342 2225 en die museum-restaurant by 074 812 3118.

