Die munisipaliteit het weer eens aangekondig dat die Breedevallei se drinkwater uit krane veilig is vir menslike gebruik.Foto:


In reaksie op voortdurende kommer oor die kleur van die drinkwater in die vallei het die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) inwoners in ’n verklaring verseker die drinkwater is ontsmet, word daagliks getoets en veilig is vir verbruik.

Hoewel die watergehalte effens verbeter het, is in sommige gevalle ’n geelbruin skynsel in water uit krane waargeneem. Die BVM skryf hierdie verkleuring egter toe aan die troebelheid van rou water uit plaaslike damme.

“Hoewel die meeste modder, grond en plantmateriaal afgesak het, lewer die teenwoordigheid van uitlopende tanniene van plantmateriaal steeds ’n bydrae tot die water se kleur.”

Die BVM erken die gemeenskap se bekommernisse en beklemtoon sy verbintenis om die probleem die hoof te bied.

“Die munisipaliteit is aktief besig met skuur- en spoeloperasies om die kleur van die water verder te verbeter. Hierdie pogings sal na verwagting die verwydering van oorblywende onsuiwerhede vergemaklik en bydra tot ‘n algehele verbetering in watergehalte.”

Die BVM het weer beklemtoon dat die drinkwater in die vallei veilig is vir menslike gebruik, maar dat hy steeds werk daarvan maak om die gehalte van die water te verbeter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article