WD Muller (18) van Ceres het agt onderskeidings behaal.


Die 18-jarige Willem Dempers (“WD”) Muller van Ceres was die Hoërskool Charlie Hofmeyr se toppresteerder in die matriekeindeksamen van 2022.

Muller het agt onderskeidings behaal en spog daarby met ’n allemintige gemiddelde van 95,1% op sy matrieksertifikaat.

“Dit is vir my ’n groot eer om te kon bereik wat ek bereik het, maar dit sou nie sonder ’n uitnemende ondersteuningsraamwerk kon wees nie.

“Ek was baie bevoorreg om in ’n skool te kon wees wat my kon help om my potensiaal te ontwikkel.

“Wat ek bereik het, is die resultaat van harde werk en deursettingsvermoë,” vertel hy aan Standard.

Muller gaan eersdaags as ’n eerstejaarstudent aantree by die Universiteit Stellenbosch (US) en vanjaar die graad BRekLLB aanpak.

“Ek wil graag kwalifiseer as ’n geoktrooieerde rekenmeester en dan my meestersgraad in internasionale besigheidsbestuur in Duitsland gaan doen.

“Ek sal dan in finansiële bestuur verder werk,” vertel hy.

Muller het onderskeidings in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, fisiese wetenskappe, gasvryheidstudies asook besigheidstudies behaal.

Hy was ook die skool se onderhoofseun en behoorlik ’n kultuur-dier.

Hy het uitgeblink in sang en musiek by die jaarlikse eisteddfod en wonderlike prestasies hier behaal.

Verder was Muller by verskeie kultuur-aktiwiteite by die skool betrokke en ook voorsitter van die kultuurraad.

Sy raad aan die matriekklas van 2023?

“Steun op die mense rondom jou as dinge vir jou te veel word – hulle weet waardeur jy gaan.

“Beplan vooruit, maar probeer ook om aanpasbaar te wees.

“Moenie bang wees om kanse te waag nie en werk vir wat jy wil bereik.

“Jy is in beheer van jou eie sukses.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article