Só lyk die Facebookblad waardeur die vermeende slenter bedryf word.

Credit: SYSTEM

Bedrieërs wat hulle glo as ’n motorhandelaar voordoen – en adverteer dat hulle sake uit Worcester bedryf – loop talle slagoffers van oor die land heen in.

Motorway Auctions is kwansuis ’n motorhandelaar wat voertuie vir spotgoedkoop aanlyn te koop aanbied. As jy jou deposito betaal en jy kry die adres van waar jou blink nuwe ryding staan, sal jy heel moontlik voor dooiemansdeur opdaag – ’n adres in Worcester wat nie bestaan nie.

“Ons onderneming is in Louis Langestraat geleë – ook kwansuis langsaan van waar dié ‘motorhandelaar’ moet wees. Hier daag gereeld mense op wat na Motorway Auctions soek. Die GPS sal hulle tot by ons bring, en dan moet ons hulle maar inlig dat so ’n plek nie bestaan nie. Baie van die mense kom van ver en het hul kwitansies op skrif of op hul foon. As jy klaar betaal het en weer bel, bestaan die nommer nie,” vertel Veroeska Pretorius van Worcester.

Een slagoffer is Johan Gouws van Johannesburg. Gouws het in April vanjaar sy pa van Stellenbosch probeer help om ’n goedkoop ryding te koop. Hy het ’n advertensie op Facebook gesien en geweet die kar is geskik vir sy pa. Hulle sou sy pa se 2004- Honda Civic inruil en die res inbetaal.

“Dit was ’n 2018- Volkswagen Polo wat te koop was, met min kilo’s op die klok en in ’n puik toestand. Hulle het betroubaar voorgekom en ek het gereël om die kar by hulle te gaan haal. Ek het Kaap toe gevlieg, na die adres in Worcester gery en met ’n skok uitgevind ons deposito van R40 000 is daarmee heen,” verduidelik hy.

Gouws sê hy het weer gebel, maar geen antwoord gekry nie. Minute later het die nommer nie meer bestaan nie, en toe hy via Facebook probeer kontak maak, is hy summier geblok.

Standard het ondersoek ingestel en gesien dat hulle steeds aktief is op hul Facebook-blad. Standard het boodskappe gestuur, asook WhatsApp-boodskappe, maar dit is oral verwyder.

By verdere ondersoek het ons gesien hul webtuiste is ’n gratis webwerf wat onlangs opgestel is. Ons het ook gesien by geen van die voertuie wat geadverteer word, is ’n Wes-Kaapse nommerplaat te siene nie.

“ ’

‘n Mens hoor hoe dit met ander gebeur. Jy dink jy is veilig en jy kan mense vertrou, maar jy kan nie

,” sê Gouws.

Hy het verstom teruggekeer Kaap toe – met dieselfde voertuig wat hy en sy pa sou inruil. Hy het egter die saak by die polisie gaan aanmeld.

“Ek het ’n saaknommer gekry en die polisie het gesê dit sal opgevolg word. Tot vandag toe is ons steeds ons geld kwyt.”

Pretorius voer verder aan dat ’n vrou haar onlangs gebel en probeer uitvind het waar dié motorhandelaar is.

“Sy het reeds R125 000 betaal. Sy was baie vies omdat hierdie plek nie bestaan het nie. Dit is nie die eerste slagoffer wat so uitgevang is nie; daar is baie.”

Die polisie lê klem op kubermisdade en bedrog en vra dat mense twee maal dink voordat geld vir ’n diens of ’n produk oorbetaal word.

Die polisie sê klagtes moet dadelik aangemeld word indien iemand met so ’n slenter gevang word.

“Mense moet versigtig wees. Jy is een oomblik desperaat en dink jy gaan nooit weer so ’n goeie winskopie kry nie. Al wat jy dan kry, is kopseer en jy verloor baie, baie geld,” het Gouws verder aangevoer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article