Morgan Stars van Waaihoek het die afgelope naweek op sy tuisveld Peacemakers in ’n klipharde wedstryd in Rawsonville-sokkervereniging se ligaverpligtinge met 2-1 getroef.

Morgan Stars was ná ses wedstryde nog nie aan die verloorkant nie en wou op sy goeie vertonings voortbou.

Die gure weer waarin die wedstryd gespeel is, het sake vir albei spanne bemoeilik.

Die middelveldspelers van Peacemakers het die meeste balbesit geniet, maar afronding het ontbreek.

Die Waaihoekers se verdediging was eenvoudig en hulle het die Peacemakers-doelskieters met rotsvaste, kliniese spel ontsenu.

Morgan Stars het sy spel voor die einde van die eerste helfte na ’n hoër vlak gelig en Tswanelo Mohlophephi het sy span se eerste doel aangeteken.

Die rustydtelling was 1-0 in Morgan Stars se guns.

Ná rustyd was Morgan Stars in ’n verwoestende bui met die wind van agter, maar die Dwarsbergers het hulle goed van hul taak gekwyt met uithaler-verdediging.

Peacemakers het die gelykmaker aangeteken, maar die skeidsregter het onkantspel uitgewys.

Johannes Hlosa, Stars se afrigter, het verskuiwings in die middelveld gemaak, waarna Tsoloane Ramorena Peacemakers se blaps uitgebuit het en sy span in ’n gemaklike posisie plaas het met ’n kanonskoot van ’n doel wat Cedric Saron, Peacemarkers se doelwagter, na wind laat gryp het. Peacemakers het ná die 2-0-agterstand probeer herstel, maar Mitchell Smit en Arnolds Visagie kon eenvoudig net nie afrond nie.

Morgan Stars se middelveldspelers het die wedstryd geheel en al oorheers met klein aangeë wat die besoekers frustreer het.

Elias Kannemeyer, Peacemaker se afrigter, het sy laaste troefkaart gespeel deur die deurwinterde doelskieter, Vaughan Jantjies, op die veld te stuur.

Jantjies en Jovin Erasmus se goeie samespel het tot die enigste doel van Peacemakers gelei.

Die eindtelling was 2-1 in Morgan Stars se guns.

Tsoloane Ramorena is welverdiend as speler van die wedstryd aangewys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article