Elton Weise, wat tereg staan weens die moord op die skrootversamelaar Johannes Jacobs in 2018, het onlangs weer in die hof verskyn.

Credit: SYSTEM

Die moordsaak waarin ’n vuurwapen-instrukteur van Worcester na bewering ’n 29-jarige informele skrootversamelaar in 2018 in die nywerheidsgebied doodgeskiet het, is onlangs weer aangehoor.

Elton Weise (48), wat van die moord op Johannes Jacobs aangekla is, het Vrydag 17 Februarie weer in die hof verskyn.

Weise word daarvan beskuldig dat hy Jacobs op 20 Julie 2018 in die nywerheidsgebied buite sy winkel doodgeskiet het.

Daar word aangevoer dat Jacobs slegs in ’n asdrom buite Weise se winkel gegrawe en ’n stryery daaroor ontstaan het.

Weise het na bewering terug in die winkel gegaan om ’n vuurwapen te gaan haal en minute later het die onderonsie in Jacobs se dood geëindig.

Volgens Weise het hy in selfverdediging opgetree.

Weise het in 2021, nadat die staat sy saak gestel het, aansoek om ontslag gedoen. Die staat het dit egter teengestaan.

Standard verneem ook egter dat Jacobs wel ’n lang geskiedenis het waarin hy menigmaal met die gereg gebots het. ’n Bron na aan Standard het bevestig dat Jacobs drie skuldigbevindings vir opsetlike saakbeskadiging agter sy naam gehad het, asook vier aanklagte van gewelddadige aanranding. Jacobs is in 2008 op ’n aanklag van gesinsgeweld skuldig bevind.

Mense na aan Weise het in die media vertel hoe ’n regverdige en gerespekteerde man hy is wat moes optree om sy eie lewe te verdedig.

Weise moet Vrydag 10 Maart, wanneer die saak hervat word, weer in die hof verskyn.

Dit blyk egter die hofsaak is na die Paarl-landdroshof oorgeplaas en sal daar hervat. Die rede daarvoor is onbekend.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article