Volgens kapt. Frederick van Wyk is die ondersoek rakende Anthea du Preez (64) se moord nege jaar gelede nie deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) hervat nie.
“Ons kan bevestig dat die genoemde dossier nooit heropen is vir ondersoek op die misdaad-administrasiestelsel nie. SAPD Rawsonville is tans besig met aanwysings van die nasionale vervolgingsgesag (NVG),” het Van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, met Standard & Gazette gedeel.
Maar volgens Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder vir die NVG, het die vervolger nie te doen met ondersoeke nie en dus kan hy nie kommentaar lewer nie.
Du Preez is op 1 Desember 2014 op die landgoed De Denne naby die ou nasionale pad vermoor. Haar hande en voete was vasgebind en die moordenaar het ’n kussing oor haar kop gesit voordat sy geskiet is.
Kort daarna is Morné Boshoff vir die moord in hegtenis geneem. Hy het egter ontken dat hy die moord gepleeg het en glo die moordenaar in sy beëdigde verklarings genoem.
Volgens vroeëre berigte oor die opspraakwekkende moord is Boshoff by sy vriendin se huis in Brackenfell deur die man na wie hy as die moordenaar verwys, opgelaai. Die twee het deur die tonnel gery en op die N1 by die plaas stilgehou. Die bestuurder het toe na Du Preez se plaashuis gestap om die kluis te gaan besteel. Boshoff het in die bakkie agtergebly. Na ’n ruk het die bestuurder teruggekeer. Volgens Rapport se berig het die man gesê “Daar is k*k. Die game het verander.”
Die twee het toe Bainskloofpas om Wellington toe gery, waar Boshoff afgelaai is en vervoergeld na Brackenfell gegee is. Die bestuurder het op die rit begin huil en sy vuurwapen langs die pad uitgegooi.
Boshoff is in 2016 in sy gevangenissel by Brandvlei glo aan ’n hartaanval dood. Dit blyk die saak is ná Boshoff se sterfte nooit verder ondersoek nie.
Standard & Gazette het na twee van Du Preez se kinders uitgereik, maar het teen druktyd nog geen terugvoering van hulle ontvang nie.





